Nuuskommentaar: Twee sesse vir Afrikaans!

Argieffoto

Argieffoto

Solidariteit se aankondiging oor ’n twaalfpuntplan vir die bevordering van Afrikaans as onderwystaal dui op die krisis waarin die beginsel van grondwetlikheid in Suid-Afrika hom reeds bevind. Hoewel die Puk-debakel, en veral minister Blade Nzimande se galbrakery as sneller vir die proses gedien het, was daar lank reeds genoeg aanduidings van probleme, en funksioneer Akademia reeds as Afrikaanse universiteit.

Die plan moet nog met ander rolspelers deurgetrap word, en daar kan nog interessante aanpassings kom voor die finale bloudruk gereed sal wees.

Intussen is die omstandighede só dat nie voete gesleep kan word nie, en sekere aspekte reeds in werking gestel moet word, ’n kollektiewe gees gebou moet word, en… daar kan gedoen word met ’n miljoen (sommer ’n hele paar daarvan).

Die verwysing na Akademia as ’n toekomstige Afrikaanse Harvard dui ook op ’n versugting tot akademiese uitnemendheid.

Daar was al pogings tot verdagmakery. Die howe is al genader om te kla dat die Afrikaanse medium van onderrig van Akademia uitsluitend tot ander rasse inwerk. Die aansoekers het gerieflik vergeet dat meer as die helfte van die Afrikaanssprekendes bruin is, en dat ’n groot getal swart mense ook Afrikaans as huistaal aangee.

’n Belangrike aspek is dat die reg tot Afrikaanse onderrig, en onderrig in ook die ander tien amptelike tale, uit die grondwet kom. Prof. Adam Habib, rektor van Wits, het hierop geskryf die grondwet word “misbruik” om die “opdrag” (blykbaar transformasie) te frustreer.

Dit wat Habib en die minister so gekant teen is, is nie net grondwetlike regte nie, maar ook deel van die internasionale reg. Wanneer die motiverings binne die internasionale reg gelees word oor hoekom spesiale voorsiening vir minderhede en hul taal in hoër onderwys gemaak moet word, hou dit verband met die bevestiging van harmonie, en ja, om nie minderhede akademies te benadeel deur hulle in ander tale te moet laat onderrig nie. En die staat moet help kostes dra.

Wat Solidariteit nou voorstel, is dus deeglik gesinchroniseer met die grondwet en die internasionale reg.

Die plan is egter nie net om Akademia gebou nie, maar om die grondwetlike reg van Afrikaanse onderrig op bestaande universiteite te beskerm, en die fokus gaan om verstaanbare redes sterk op die Puk val. Waar terme soos transformasie as vyeblaar gebruik word om teen mense op grond van taal, ras en afkoms te diskrimineer, sal dit afgeruk word. So ’n plan het egter ook openbare steun nodig, en dit sal aandag kry.

In ’n interessante artikel, Vat hande oor Afrikaans, in Die Burger op 18 Desember 2012, neem die bekende Henry Jeffreys en dr. Michael le Cordeur die kwessie uiters politiek korrek onder die loep. Die agtergrond was dat hulle, saam met Flip Buys van Solidariteit en prof. Koos Malan van Tuks die Afrikaanse afvaardiging uitgemaak het wat ʼn Hoorzitting van die Taalunie in Nederland gaan toespreek het.

Buys en Malan se bydraes en terugvoer is danksy goeie kommunikasie-instrumente goed mediagewys in Suid-Afrika gedra.

Jeffreys en Le Cordeur het blykbaar nie met alles saamgestem nie, en byvoorbeeld daarop gewys dat daar binne die Afrikaanse Taalraad nie eenstemmigheid oor die (bydraes by die) Hoorzitting was nie. Hulle lê baie klem daarop dat meertaligheid by universiteite soos die Universiteit van Stellenbosch bevorder moet word. Wyle prof Jakes Gerwel se pleidooi vir die soomlose Afrikaans word geopper. Maar tog bevat hul artikel die volgende sinne: “Dit is die missie van ons, die taalsprekers in al ons verskeidenheid, om self verantwoordelikheid te aanvaar vir die toekoms en groei van ons taal. Ons gaan vorentoe al hoe meer projekte moet aanpak soos Solidariteit se idee vir ’n private Afrikaanse universiteit. Dit kan en behoort gedoen te word in vennootskap met die staat (nie afsonderlik of in isolasie nie); maar as dit nie kan nie, moet ons dit self doen. Die toets vir sulke inisiatiewe, maak nie saak hoe deurdag nie, sal wees die mate waarin Afrikaanse huishoudings dit met beursies en voete sal ondersteun. Soos by die Afrikaners ná die Anglo-Boereoorlog, is dit tyd vir eie verantwoordelikheid en stappe – maar hierdie keer deur en namens die taal en al sy ryke verskeidenheid van sprekers.

Dit sal interessant wees om Jeffreys en Le Cordeur se reaksie op die twaalfpuntplan te verneem. Vergelyk die deel om Afrikaans as onderrigtaal by bestaande universiteite te beskerm nie baie sterk met dit wat Jeffreys en Le Cordeur bepleit nie? Het die minister (en Habib) se uitsprake nie duidelik genoeg onderstreep dat die punt aangebreek het dat “as dit nie anders kan nie” ons dit self moet doen nie?

Daar is waarskynlik nie ’n knap genoeg advokaat wat die minister sal oortuig dat die staat Akademia ingevolge die grondwet en internasionale reg behoort te ondersteun nie. En selfs al word hierdie reg deur die nuutsaamgestelde Kommissie vir die Beskerming en die Bevordering van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe bevestig, moet in gedagte gehou word dat die minister se eie SAKP aan die spits staan daarvan om pres. Jacob Zuma teen die Openbare Beskermer te verskans. Die regering se hantering van Hoofstuk 9-instellings laat immers veel te wense oor.

Die twaalfpuntplan maak daarvoor voorsiening dat die howe genader kan word. So iets is egter ’n duur proses, en soos die wind nou waai, kan so ʼn hofsaak ook uiteindelik by ʼn internasionale liggaam beland om te bereg.

Die twaalfpuntplan sal heel waarskynlik ook ernstige kritiek uit Afrikaanse en Afrikanergeledere kry. Daar is immers sulke mense in die links-liberale dampkring wat enigiets waaraan Solidariteit en AfriForum raak, veral as dit by die beskerming van Afrikaans kom, as “regs” verdag maak en kritiseer.

Maar voor dit gebeur kan gerus gekyk word wat Jeffreys en Le Cordeur reeds in 2012 geskryf het: “Die taal (Afrikaans) het wel uitdagings en verkeer (soos alle minderheidstale in die land) soms onder druk.”

Intussen het baie water in die see geloop. Analis op analis wys daarop dat die regering se hantering van sake, onder meer sy rasbeheptheid, polarisasie aanhelp. Die rasbeheptheid is só akuut dat dit ook ’n nie-rassige taal onder skoot neem. Is daar dan nog ruimte vir naïwiteit? Links of regs?

Die mate van polarisasie word byvoorbeeld goed gedemonstreer in die reaksie op die polisie se Riah Phiyega se “gelykstelling” van ’n moord in ’n sjebien met ’n plaasmoord. Ja, beide is erg en onaanvaarbaar, maar om die ongeval van ’n dronknesbakleiery in ’n sjebien te vergelyk met ’n wrede aanval op ’n Godvresende gesin, onder meer tydens Boekevat, grens aan haatspraak. Sy dwaal ook as sy meen die reg tref geen onderskeid nie. Die reg tref inderdaad ʼn groot onderskeid tussen kriminele dade wat sonder beplanning, op die ingewing van die oomblik, onder die invloed van skokiaan of welke drank ook al, gepleeg word, en ’n koelbloedig beplande moord waarin wreedheid geen perke ken nie.

Só word die muur van wantroue en polarisasie net hoër gebou.

Dit is tyd dat ’n hele nuwe blaadjie omgeslaan word – in almal se belang – al moet met die regering arm gedruk word om dit te doen.

Ses plus ses is twaalf. Nou moet die kolwers na vore tree wat die sesse kan moker. Maklik is dit nie, want ministers soos comrade Blade boul handgranate, en die links liberale boul onderdeur rollende balle met ’n politiek-inkorrekte naam.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Sjert ·

Dat Le Cordeur en Jeffreys Solidariteit se Twaalpuntplan sal ondersteun, word ernstig betwyfel.

Van ‘dampkringe’ gepraat – die twee is veel eerder deel van die Jonathan Jansen en oorle’ Botman dampkring. Dampe wat weliswaar nie ‘n welriekende klankie het nie.

Dit het laaaankal tyd geword dat die Afrikaner hom/haarself nie langer steur aan die uitsprake en optredes van “Afrikaanses” soos Jansen Le Cordeur, Boesak ens ens ens nie. Hulle insette sal vorentoe – soos gewoonlik – veel eerder ‘n struikelblok wees as wat hul bydraes van enige nut vir mens of dier mag wees.

Soos ons voorouers moet ons weet en besef dat wonderlike inisiatiewe soos Solidariteit se planne om Afrikaans as uitnemende akademiese voertaal te behou en uit te brei, van ons Afrikaners se insette en finansiële ondersteuning afhanklik sal wees. Soos ons voorgangers dit sedert die begin van die vorige eeu moes doen. Wat ons instaat gestel het om kwaliteit onderrig in ons Lewende Taal te ontvang.

Om ons nasate geleentheid te bied om dieselfde voorreg te geniet, moet ons Solidariteit in hul strewe steun, Laat die bewese onbetroubare siele wat nog nooit enige positiewe bydrae gelewer het om ons Taal te beskerm en te koester nie in hulle-se-wat-weet=alles in vlieg.

Johan ·

As Akademia ‘n lang geskiedenis van onderrig in Afrikaans wil he, moet die idee van staatsondersteuning nou nekomgedraai en by die venster uitgegooi word, anders sal iemand dit ook kom opeis wanneer dit die ander mislukkings begin ore aansit. Die Afrikaner en ander wat in Afrikaans uitmuntende onderrig wil ontvang sal op hulleself aangewese moet wees en bly om sukses te behaal hiermee.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.