Nuuskommentaar: Verkiesing – vrae wat om antwoorde roep

‘n Advertensiebord wat deur die DA opgerig is as deel van dié party se verkiesingsveldtog. (Foto: Verskaf/DA)

Wat is die kanse dat die komende algemene verkiesing seepglad sal kan verloop as Eskom nou so met kraglewering sukkel? In hoe ’n mate is kiesers seker dat dit wat die politici nou aan hulle opdis nie ’n pot vol halfgebakte kluitjies is nie? En boonop raak dit net ingewikkelder om te begryp wat die owerheid onder rassisme verstaan.

Dis al amper algemene verkiesing en baie mense drom om die kristalbal saam om meer lig op talle aspekte gewerp te kry. Eskom, so blyk dit, faal maar sleg met die ligwerp-storie.

Net soos baie politici.

Daar is talle vrae wat beantwoord moet word. Vrae soos:

Wat verstaan die “hoofstroomdenke” onder die begrip van rassisme? Kan ’n kieser verkwalik word as hy aflei om nierassig te wees beteken om antiwit te wees? MTN het hom op ongepoetste wyse as borg aan die Afrikaans is Groot-konserte onttrek weens Steve Hofmeyr se deelname en politieke beskouings.

Beteken dit dat, om werklik nierassigheid voor te staan, geen borgskappe ook oorweeg sal word aan konserte waar daar kunstenaars gaan optree wat lid is van eksklusiewe swart kunstenaarsorganisasies nie, of word op ’n manier geredeneer dat lede van sulke organisasies, soos ook onder andere die Black Lawyers Association (BLA) nierassig is?

Hierdie wardenke strek ver – soos die OVK se besluit om die Black First Land First (BLF) as party te registreer, en vir deelname aan die komende verkiesing te registreer. Die BLF laat net swart lede toe, in stryd met omtrent enigiets van die Grondwet, wetgewing en die verkiesingskode. Maar dit kos die Vryheidsfront Plus om verkiesingshof toe te gaan om die ooglopende te probeer tuisbring. En heel pikant beskuldig die BLF die VF-Plus daarvan dat hy rassisties is.

Die Menseregtekommissie volg skynbaar dieselfde denkpatroon met sy uitspraak dat haatspraak deur Julius Malema, wat volgens die FW de Klerkstigting boonop ook op aanhitsing tot volksmoord neerkom, nie haatspraak is nie.

Die voorbeelde is legio.

Hoe werk iemand se kop om grondonteiening sonder vergoeding as “grondhervorming” te beskryf, ten spyte daarvan dat Suid-Afrika verskeie internasionale verdrae onderteken en geratifiseer het wat grondonteiening sonder vergoeding as ’n skending van menseregte beskou? En tog gebruik talle mense, ook akademici, die woord “grondhervorming” hiervoor. Dit oortref enige vorm van pikantheid.

Pas ná pres. Cyril Ramaphosa kort ná sy rampspoedige verkiesingsrit op ’n Prasa-trein gevra het dat mense tog vir die ANC moet stem omdat die ANC die enigste party is wat die land die toekoms in kan neem, het die draakstekery hieroor begin.

Tensy hy daarmee ’n toekoms van chaos en rampspoed bedoel het, gaan iemand se neus baie lank begin word. Kyk maar net na die ANC se kandidatelys vir die verkiesing, en die einste ANC se goedpratery daarvan, om te weet wie die land se bontpraat-kampioen is. En dan is daar nog ’n reusekloof tussen hierdie bonte kafpratery en die dade, of hoe? En van dade gepraat, hoekom “vorder” die uitdeel van oranje oorpakke vir staatskapers so harmansdrup stadig?

Hoe werk die Koornhof-“logika” dat ’n stem vir Ramaphosa nie ’n stem vir die ANC beteken nie?

Pres. Cyril Ramaphosa word onder luide toejuiging verwelkom by die ANC se provinsiale verkiesingsmanifesbekendstelling in Rustenburg Noordwes. Foto: ANA

Stem met die stembrief of met die voete? 

Daar is soveel sulke vrae, en ander soos hoekom tien miljoen stemgeregtigde kiesers nie vir deelname aan vanjaar se verkiesing geregistreer het nie. Voeg dié by wat wél geregistreer is, maar op 8 Mei net eenvoudig nie die moeite gaan doen om te gaan stem nie, of op die een of ander wyse ’n protesstem gaan uitbring soos om die stembriefie te bederf.

Lui dit nie ’n alarm as daar soveel ontgogelde stemgeregtigdes is nie?

Dan het ons boonop die teenstrydigheid van mense wat ’n protesstem uitbring deur byvoorbeeld ’n skool (of twee, drie) af te brand en dan ook nog sy kruisie gaan trek – en dan boonop vir die ANC te gaan stem. Met die opkoms van die EFF lyk dit weliswaar asof ontevredenheid met groter afvalligheid van die ANC gepaardgaan.

Feit bly egter dat “met die voete gaan stem” nie die enigste vorm van protesstem is nie. Onluste en stemme vir erg gediskrediteerde kandidate is nog vorme.

Hoewel ’n mens dit deesdae veel minder hoor dat die Suid-Afrikaanse Grondwet “die beste in die wêreld is”, sou die werklikheid op die grond, die ANC se tradisionele “goeie storie” voor verkiesings ten spyt, darem kiesers oortuig het dat daar groot leemtes in die Grondwet is.

Ten slotte. Daar is reeds vrae oor of die OVK dit sal kan hanteer as daar op verkiesingsdag erge kragonderbrekings gaan wees. Hoewel die vlakke van die belangrikste hidroëlektriese opwekkingsdamme redelik hoog is, en heelwat hidroëlektriese krag op stemdag opgewek behoort te kan word, is verkiesingsdag redelik aan die begin van die winter met sy min reën in die binneland. (Gariepdam 81,3%, Vaaldam 94,4% en die Vanderkloofdam 66,5%.) Dit sal onwys wees om die damme dan leeg te laat loop vir hidroëlektriese krag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Nika ·

Snaaks dat die petrol prys nie genoem word nie, Botswana betaal n appel en n ui vir petrol maar ons moet opdok en die boere gaan nog swaarder trek. Wat van die spekulasie dat daar nie n verkiesing gaan wees nie? Wat dink mense gaan gebeur as Eskom werklik vou? Sonder krag gaan mense plunder en jy gaan nie diesel of petrol gepomp kry nie, sonder krag vaal die hele riool sisteem, water kan nie gepomp word nie. Dis n nagmerrie en CR is tjoepstil, hy gee net om oor sy eie sak.

Los net! ·

Hou dit asb net n vakansiedag! Ek het klaar my uitstappie saam met my familie gereel!

Dries du Toit ·

@los net. Sorg net asb dat jou uitstappie via die stembus is. Terwille van jou kinders en kleinkinders

Grassie ·

Wat die klomp lawaaimakers van nou af tot op verkiesingsdag kwytraak is nie belangrik nie. Die eerste klompie maande na die verkiesing gaan die land se toekoms bepaal. As CR dan nog aan bewind is, is die bal in sy hande. Gaan hy dan van die klomp vrot appels en Zuma-dissipels in die kabinet ontslae raak? Bo alles – gaan hy van Ace Magashula ontslae raak? Gaan hy werklik die ANC se grondroofplanne deurstoomroller? Hy was vroeër daarteen gekant maar as hy tydens daardie ANC vergadering so gesê het sou hy die stemmery verloor het. Gaan hy werklik iets omtrent Eskom se ellende doen? Ek dink dit gaan die eerste geleentheid vir CR wees om sy ware kleure te wys. As hy die regte dinge doen is daar miskien so ‘n bietjie hoop vir die land. As hy op sy huidige trant voortploeter gaan ons ekonomie reguit rommelstatus toe en die res van die land gaan so diep in die modder wegsak dat ons maar net nog ‘n Afrika-mislukking gaan wees.

waarheid ·

Die kragsituaie is maar net EEN ding wat hulle vernietig het – daar is baie baie ander dinge wat hulle ook vernietig het – die hele SA – om dit op te som.

John ·

As CR nou al op eiers loop, hoe gaan hy verder aan optree. Almal wat op hom hoop wil graag glo hy gaan op ‘n goeie nommer vasslaan en ontpop as hul droomleier wat almal wat hom as leier gekies het, koebaai toeroep. Die vorige voorsitter van Denel se getuienis vanoggend openbaar weer eens die diep siel van die ANC as ‘n gewapende terroriste-groep wat oorlogvoering ten doel gehad het… om witmense te dood om te kry wat hulle wil hè, Gaan CR skielik omswaai en iets anders predik en bo bly?

Frik Lotz ·

Moenie by die huis sit op stemdag nie. Gaan uit en gaan stem vir die party wie se waardes min of meer ooreenstem met jou eie waardes. As jy omgee vir jou taal, Afrikaans, sterk voel oor minderheidsregte, gekant is teen regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging en onteiening sonder vergoeding, stem dan vir n party soos die VF Plus. Hierdie is seker een vd belangrikste verkiesing nog en veral vir minderheidsgroepe.

Karin ·

Ag nee wat, die VF+ het hul kans gehad en dit verspil. Ander Afrikaner belangegroepe vermag meer buite ‘n parlement wat reken Afrikaners is ‘n klomp narre wat te veel van hulself dink.

Gustav ·

Frik, ek vermoed die wittes het in 1992 hul laaste kans by die stembus gehad. Daai tyd is al die tandepasta uit die buisie gedruk. Om die tandepasta nou te probeer terug druk, is haas onmoontlik.

Dries, jy kan nie glo hoe bitter dankbaar is ek dat ek nie kinders het nie. My selfsug van jare gelede was toe al die tyd n bedekte seën.

Anni ·

Mut een ding se vd VF hul belowe ni werk op van hul borde Wat ek daagliks by verby ry. So ek gee ni om of hulle in kom ni, Kry my stem.

JWM ·

Al die onvermoeens objektief beskou, hoe ver is ons van n rewolusie? n Algehele omverwerping van die ANC-regering vir herstel en ontwikkeling van ons waardevolle bronne eerder as vernietiging?

Sam ·

Moenie asem ophou dat CR een of ander verborge reddingsplan het nie. As dit so sou wees, hoekom is hy so verbaas oor Eskom se falings — al was hy sedert 2015 verantwoordelik vir die “regrukplan”. Al wat hier te sien is, is die fatale onbevoegheid van die regerende party. Voordat hulle nie by die stembus verslaan is nie is daar geen kans vir herstel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.