Nuuskommentaar: Wondere en slaggate van nuus in die digitale era

Argieffoto

Argieffoto

Al ooit gewonder hoe ‘n leser een nuuswebwerf kan besoek en met een oogopslag die jongste nuus van die krisis in die Oekraïne, met die IS in Sirië en Irak, die Gazastrook, en die onluste in Ferguson in die VSA kan kry? Dit terwyl plaaslike nuus ook by die minuut bygehou word? En boonop is daar reeds kontekstuele artikels en berigte?

Matthew Dickenson, wat ‘n daaglikse rubriek vir die Christian Science Monitor en weekliks vir US News skryf, erken ruiterlik dit sou vir hom onmoontlik wees as dit nie vir die digitale era was nie. Hy erken voorts dat hy ruim inligting en agtergrond daarvoor bekom deur die werke van ander joernaliste en rubriekskrywers te lees. Maar, skryf hy, in die proses is hy deurlopend bekommerd oor wanneer hy die dag gaan vergeet om ‘n bron of oorspronklike outeur aan te dui, of die nodige skakel aan te bring, en hom aan plagiaat gaan skuldig maak.

Elke rubriekskrywer loop hom immers gereeld vas in joernalistieke juwele waaroor hy dit roerend eens is maar self nie beter kan stel nie.

Dickenson sê die versoeking bly groot om digitaal te “knip” en te “plak”. Kort-kort word joernaliste, selfs gerekende joernaliste, betrap dat hulle plagiaat gepleeg het. Dikwels gaan dit nie oor ‘n woord-vir-woord oorskryf nie, maar met genoeg ooreenkomste sodat dit lyk of die inligting wat sonder bronverwysing gebruik is, oorspronklik uit ‘n ander toetsbord gevloei het.

Hoe sterker die kompetisie tussen twee publikasies, digitaal of andersins, hoe meer hou hulle mekaar met valkoë dop om alarm te maak oor plagiaat of roofjoernalistiek. Hierdie soort jaloesie kan patalogies word wanneer sulke beuselagtige “bewyse” uit verband geruk word en uit die oog verloor word dat dit oor inligting handel wat al behoorlik in die openbare domein is.

Die meeste Suid-Afrikaners is bewus van die rol wat Sapa speel om nuus na verskillende media te versprei. Wêreldwyd is daar egter talle, waaronder AFP, AP, DPA, Reuter en vele meer. Byna enige nuuswaardige nuus kan dus byna oombliklik gevind word deur bloot sleutelterme te Google, en daar is te kus en te keur om die nuus vanuit verskillende hoeke te bestudeer.

Die meeste lesers het egter nie die tyd om selfs studies te loods nie, en verkies dat alles by een “stasie”, netjies verpak en taalversorg, gelees kan word.

Hierdie behoefte dra daartoe by dat Media24 die Afrikaanse betaal-nuuswebwerf, Netwerk 24, in die lewe geroep het. Dit is in hoofsaak die bymekaarbring van dit wat nou op die webwerwe van Beeld, Die Burger en Volksblad gelees kan word. Of dit die druk op die gedrukte koerante gaan laat oplaai of verlig, sal die tyd leer.

Die nuusaanbieding in die kuberruim het so vinnig ontwikkel dat heelwat van die wiele nog ontwerp moet word. Die een gemene deler is om ‘n behoorlike finansieringsmodel daarvoor te vind. Intussen kan nuuskwaliteit en die geloofwaardigheid daarvan nie in die slag bly nie, en sal baie foute in die mededingingsomgewing gemaak word.

In die proses kan uit die oog verloor word dat die eerste doelwit is om ‘n kliënt, die leser, te dien. Die leser kan afgeskeep word deur aan hom roofjoernalistiek as eie werk op te dis. Maar die omgekeerde is ook waar, soos om die mededinger só die koue skouer toe te keer dat die lesers sekere inligting en insigte ontneem word bloot omdat dit die eerste keer in die “verkeerde” kuberstasie opgeduik het. Of die blinde oog daarop gewerp word omdat dit ‘n “politiek-inkorrekte” standpunt verteenwoordig, of ‘n standpunt in stryd met die ander se eie “agenda”.

Die wonder van die digitale wêreld is egter dat die lesers self hierdie kompartementasie afbreek. Let maar op Maroela Media se hoofblad op oor hoeveel Facebook “shares” berigte, nuuskommentare en artikels in Die Groot Debat kry. Afhangende van die onderwerp wissel dit gewoonlik van enkele honderde tot duisende. Dit is egter nog geen aanduiding van hoeveel mense die berig of rubriek gelees het nie.

Uiteindelik is dit ook hoe demokrasie werk. Verslaggewers Sonder Grense, een van die vernaamste persvryheidswaghonde in die wêreld, beskou die media se weergee van politieke diversiteit in ‘n land as een van die aanduidings van die vlak van mediavryheid in ‘n land. En hiertoe dra die kubernuus, gerugsteun deur die sosiale media, heelwat by.

‘n Goeie voorbeeld is die weiering van ‘n betaal-TV-diens om ʼn advertensie van Solidariteit te beeldsend. Deur die sosiale media in te span, sal meer mense waarskynlik uiteindelik die advertensie sien, en nog meer van die inhoud kennis neem, juis omdat die verspreiding met die boodskap gepaard gaan dat daar ‘n poging was om dit te smoor.

Die opkoms van die kubermedia plaas egter ook ‘n ander aspek op die agenda, naamlik die behoud van Afrikaanse koerante om as belangrike faktor vir die behoud van Afrikaans te dien. Binne koerante is, selfs na verjongingskure wat dikwels volgens lesers tot ‘n verlies aan kundigheid en taalvaardigheid gelei het, ‘n reusekollektief om Afrikaans te rig en te ondersteun.

Maar Afrikaans is veel meer as net ‘n opstapeling van woorde. Dit is ook ‘n kultuur, en om te verdien om te oorleef, moet koerante ook versigtig wees om nie, soos oom Oubaas dit stel, volksvreemde gedagtes aan te hang nie. Nou is daar ander opsies waarheen lesers kan gaan, en geoordeel aan die migrasie in die kuberruim, is daar inderdaad ‘n verskuiwing.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Digitaal, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae