Nuuskommentaar: Zuma se teenspoed en Menseregtedag

Byna asof dit afgespreek is, het die appèlhof die dag voor Menseregtedag die vinger in pres. Jacob Zuma se oog gesteek. Zuma en van sy vernaamste kornuite is veral die afgelope paar maande gereeld aangehaal oor uitsprake wat as aanvalle op die regstaat beskou is. Eensklaps, so lyk dit, het die kanse baie verbeter dat Zuma inderdaad, soos hy dit gestel het, sy dag in die hof sal kry – woorde wat hy stellig al bitterlik berou.

Die jongste uitspraak onderstreep die belangrikheid dat individuele regte en die uitvoerende leierskap nie onbegrens is nie. In die praktyk sal Zuma waarskynlik nou elke greintjie mag en energie gebruik om die kwessie te laat voete sleep tot na die ANC se nasionale konferensie die einde van die jaar, sodat sy pogings om tot ANC-president herkies te word, nie verswak word nie. Waarnemers meen as eerste stap sal hy na die grondwetlike hof appèl aanteken. Alle mense se regte, ook dit wat in die handves van menseregte in die grondwet opgeneem is, word begrens. Iemand in die gevangenis se reg op bewegingvryheid is immers erg ingekort, terwyl daardie reg ook deur ‘n ander se reg op eiendom en reg op privaatheid beskerm word. Nogtans plaas die vryhede ook op persone ‘n groot verantwoordelikheid, want regte sonder verantwoordelikheid is anargie.

Omdat menseregte ‘n veelkoppige en wydlopende verskynsel is, beteken dit nie veel om Suid-Afrika se posisie op ‘n menseregteindeks te probeer opspoor nie. Boonop staan pogings van minderhede om hul posisie onder die internasionale gesagsliggame te bring in hul kinderskoene en word gevolglik nie ten volle weergegee nie. Dit is daarom meer insiggewend om na die VN se Menseregteraad se ontleding van die verskillende aspekte in Suid-Afrika te kyk. Onder die kwessies waaroor Suid-Afrika aangespreek word vir verbetering tel onder meer die beter beskerming van vroue en meisies wat klagtes van verkragting lê, en dat maatreëls ingestel word om die vlakke van geweld teen vroue te verminder.

Suid-Afrika word ook aangemoedig om sy pogings vol te hou om opvoeding aan almal te voorsien. ‘n Aanbeveling wat die hare laat regop staan is dat Suid-Afrika aangemoedig word om wetgewing teen marteling en wrede en onmenslike behandeling van mense te aanvaar om die land in pas te bring met artikel 1 van die internasionale konvensie hieroor.

Suid-Afrika word ook aangemoedig om in pas te kom met internasionale praktyke oor ekonomiese en kulturele regte. Oor rassediskriminasie word Suid-Afrika aangemoedig om sy ervarings met die VN se Menseregteraad te deel as voorbeelde van beste praktyk – iets wat die slagoffers van affirmative action sal ontstel.

Wat die internasionale persepsie oor Suid-Afrika se verbintenis tot menseregte egter ook skaad, is dat die land hom voortdurend in die kring van muishondlande bevind. Terwyl die internasionale beginsels om bevolkings teen onder meer massamoord deur hul regerings te beskerm momentum kry, het Suid-Afrika die boodskap uitgestuur dat hierdie massamoorde ‘n mindere oortreding is as internasionale ingryping ingevolge internasionale verdrae, soos die Internasionale Kommissie oor Inmenging en Staatsoewereiniteit se sogenaamde “Verantwoordelikheid om te Beskerm”-beginsels. Dit skep die indruk dat Suid-Afrika wrede despote se posisie probeer verskans.

Wat die regte van taal- en kultuurgemeenskappe betref, is Suid-Afrika se minderhede nog in hul kinderskoene. Trouens, minderheidsregte as ‘n integrale deel van menseregte, word in Suid-Afrika dikwels as politiek inkorrek beskou, soos die ontsteltenis oor Julius Malema se skuldigbevinding aan haatspraak getuig. In Europa staan minderheidsregte op dieselfde vlak as individuele regte, en die VN sinspeel juis dat Suid-Afrika internasionaal na voorbeelde moet koekeloer.

Internasionale praktyk toon egter dat die verantwoordelikheid om minderhede se lot onder die wêreldaandag te bring, die verantwoordelikheid van die minderhede self is. Dit word reeds met groot sukses deur gemeenskappe soos die Armeniërs en die Koerde toegepas. Die Tamils in Sri Lanka se optrede het hul vernaamste beweging, die Tamil Toere, die status van terreurorganisasie en dus internasionale afkeer op die lyf laat loop.

Die Afrikaner kan baie leer. Sy suksesse tot dusver was danksy die gematigde stem op internasionale verhoë. Radikale stemme soos die goedpraat van Hitler en rassemeerderwaardigheid verseker bot toe ore in die buiteland.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae