Nuusoorsig: Die wetenskap en moderne denkstrome

Foto: NASA

Met die 50ste herdenking van die eerste bemande maanlanding vanjaar is die verwydering wat tussen die wetenskaplike wêreld en mense wat oor verskeie kwessies anders voel, opnuut belig.

Hierdie kwessies wat die wetenskap, of belangrike dele daarvan, en soms selfs die essensie daarvan betwyfel of betwis, het verskeie oorsake. Hieronder tel ontkenners en aanhangers van samesweringsteorieë, en dit lei gereeld tot bitter kuber-woordewisselings.

Vanjaar was egter ook die 100ste herdenkingsjaar van die opkoms van Christen-fundamentalisme. Soos ook bevestig deur ’n verduideliking van die hoogs-gerespekteerde dr. Izak Burger op RSG, is die uitdeel van etikette hieroor kompleks en ingewikkeld. Die verdelingslyn loop nie altyd streng tussen verskillende kerkverbande nie, en die voortslepende twiste binne tipies nie-fundamentalistiese kerkverbande soos onder meer die NG Kerk is ook dikwels hierin gesetel.

’n Algemene beswaar teen die onoordeelkundige gebruik van fundamentalisme, veral in godsdienstige verband, is ongesubstansieerde vergelykings wat Moslem- en ander godsdienste se fundamentaliste kan laat posvat.

Terwyl Maroela Media om verstaanbare redes nie gekwalifiseer is om as arbiter hieroor op te tree nie, en dit ook nie Maroela Media se styl is om leserstwiste te fasiliteer nie, onderskryf Maroela Media wel meningsvryheid, solank dit binne Maroela Media se gedragskode val, wat op sy beurt binne sy Christelike beginsels val. Dit vereis op sy beurt, weldeurdagte weergee van die openbare diskoers om aan die lesers se reg tot die objektiewe weergee van harde nuus te voldoen.

Spore van die moeilik-versoenbare aspekte van die wetenskap en ’n fundamentalistiese beskouing kan tot die tyd van die kerkvader Augustinus teruggevoer word. In moderne tye het emeritus ds. Fanie Coetsee van die GKSA in Die Kerkblad dit verwoord as God se twee openbaringswyses. Die een is deur God se Woord, die Bybel, en die ander is deur God se skepping, naamlik die natuur/wetenskap.  ’n Literatuurstudie toon aan dat Coetsee se siening wydlopend aanhang in kerkgeledere geniet, maar dat die bewoording nie altyd min of meer dieselfde klink nie. Augustinus self se opgetekende weergawes is gewoonklik goed hiermee te versoen.

Onder die ontkenners wat gereeld skote afvuur en dan onder grofgeskut, gerugsteun deur skerpskutters onder skoot kom, tel aanhangers van die plat aarde- teorie, en klimaatontkenners. Laasgenoemde moet weer verdeel word tussen aanhangers van die idee dat klimaatsverandering ’n “hoax” is, en die meer algemene, wat ontken dat die mens ’n rol in klimaatsverandering speel. Net soos met wetenskaplikes die geval is, stem ontkenners nie oor alle sake onderling saam nie. Kortom, nie alle klimaatsontkenners is byvoorbeeld aanhangers van die plat aarde-teorie nie.

Wetenskaplikes voel dit wat hulle verkondig se geloofwaardigheid is voldoende gestaaf, onder meer deur portuuroorsigte. So word aanvaar dat elke moontlike “bewys” wat gebruik word om die maanlandings te staaf, en die ontkenners se “bewyse” tot die teendeel voldoende weerlê is. Die ontkenners gebruik egter steeds dieselfde “bewyse” tot die teendeel asof dit nog nooit weerlê is nie.

Waarskynlik die mees sensitiewe manifestasie is die aanhangers van die jong aarde- teorie. Hiervolgens sou die aarde nou, afhangende van die woordvoerder, tussen 6 000 en 7 000 jaar oud wees. Dit is nie met verskeie natuurwetenskappe te versoen nie. Hierdie wetenskappe is in ’n verslag van ’n kommissie van die GKSA “probleemwetenskappe” genoem, naamlik vakgebiede soos fisika, biologie, geologie ensovoorts. Die sinode het egter nie die verslag as ontvanklik vir bespreking aanvaar nie (weens steeds te veel bestaande twiste in die kerk).

Ook wat hierdie aspek betref meen die wetenskaplikes die wetenskap het elke aspek van die alternatiewe voorstelling voldoende bewys.

Hierdie is slegs ’n baie oppervlakkige opsomming. Die implikasies en gevolge kan egter nie geïgnoreer word nie. Met die jongste klimaatsberaad wat pas in Madrid plaasgevind het, is politici van veral sommige lande daarvan beskuldig dat hulle hul ore vir ontkenners eerder as die wetenskap uitleen, en so die hele poging om die verwoestende gevolge van die mens se rol in klimaatsverandering probeer kelder. Dié kritiek kom veral van die sekretaris-generaal van die VN en die WWF.

Die stryd tussen ontkenning en die wetenskap het vanjaar ook in die mediese wetenskap gemanifesteer toe daar wêreldwyd weer verskeie uitbrekings van masels was. Masels kan ’n pasiënt sy lewe kos, en is hoogs aansteeklik. Baie ouers weier dat hul kinders teen masels ingeënt word nadat ’n gediskrediteerde dokter beweer het die inentings kan outisme veroorsaak. Dit is reeds deur twee ondersoeke as onwaar bevind, maar talle ouers glo steeds dat die inentings outisme kan veroorsaak. In New York het ouers wat weier om hul kinders in te ent, en wie se kinders toe by ’n openbare skool die deur gewys is om die ander kinders te beskerm, hof toe gegaan, maar die saak verloor.

Die opkoms van fopnuus het ook ’n invloed op die aard en verspreiding van persepsies oor fundamentalisme en die wetenskap. Pres. Donald Trump verwys dikwels na die aantygings teen hom as fopnuus en die produk van ’n sameswering. ’n Akademikus sê hy het vyf ooreenkomste gevind in die wyse waarop Trump se ondersteuners Trump se saak in die staat van beskuldiging-verrigtinge hanteer, en metodes wat deur die fundamentaliste gebruik word.

Intussen word vitrioel milddadig deur albei kante ingespan en veroordelings is daagliks te siene. In ’n wêreld met groot spanning en vele konflik, en propvol kernwapens asook op ’n dun lysie van klimaatsverandering vir kosvoorsiening, is die vind van nog terreine om vir mekaar die hoenders in te raak, en dit nogal waar een kant noodwendig verkeerd moet wees, nie juis aan te bevele nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Kiskar ·

Daar is ‘n hengse groot verskil tussen klimaatsverandering en mensgemaakte globale verwarming. Daar was nog altyd klimaatsverandering. Wetenskaplike data wat oor meer as 150 jaar ingevorder is, bevestig dit. Maar warm tydperke waardeur die aarde in die verlede gegaan het, korreleer nie met hoë koolstofdioksiedvlakke soos deur die media verkondig word nie. Gaan kyk gerus ‘The Great Global Warming Swindle’ op youtube.

Kerneels ·

Ek stem saam. Daarom kan ons maar voortgaan om CO2 in die lug op te stuur. Die aarde se klimaat is in elk geval aan die verander. Nou gaan ek winkel toe ry met my groot diesel bakkie en dan is dit braaityd. Hieha die lewe is lekker. Hoop net my vullis word volgende week verwyder.

Anti Da ·

NASA beplan om n halfweg huis op die Maan te bou vir n stop na Mars. Intussen gebruik ek my vlieende piering om mense te wys die aarde is nie plat nie. Soveel ruimte daar buite, dit maak n gewone mens se kop spin. Die aardbol is maar net n spikkel. Rek julle nekke en kyk op vanaand wanneer dit donker is. Daars beter dinge om te doen, moenie soos skape voor die tv te sit.

Johann M van Heerden ·

Daar is geen twyfel dat die aarde warmer word nie. Die vraag is egter wat die bydrae van die mens is. Die ander probleem is dat ek wel weet daar is geld te make uit navorsing ens oor klimaatsverandering. So dit pas sekere mense om die storie te propageer. Die vrystelling van kweekhuisgasse deur die mens is die grootste by groot ekonomiee. Die vrystelling in ‘arm’ lande is baie minder. Dit gee bv Afrika ‘n stok om die Weste by te kom, maar hulle vergeet gerieflikheidshalwe van China en die olieproduserende Arabiere. Afrika is ook arm en agtergeblewe en het hongersnood. Wat sou hulle verkies: honger en armoede of ekonomiese vooruitgang?

Rupert Ashford ·

Ironies die gebruik van die woord “ontkenner” of “denier” as ‘n kaartjie om iemand se nek om hom/haar te neutraliseer. So word Bjorn Lomborg wat in groot mate saamstem met alles wat die IPCC se oor die mens se bydrae tot klimaatsverandering, maar verskil daarin dat hy reken dit is beter om maatreels te tref om aan te pas by die veranderende klimaat totdat effektiewe en ook koste-effektiewe alternatiewe vir fossielbrandstowwe gevind kan word wat nie welvaart sal vernietig nie, as ‘n “ontkenner” (climate change denier) gebrandmerk oor sy standpunt.

André André ·

Trump bly maar ‘n gewilde persoon wat mense in hul vergelykings en as voorbeeld gebruik, ander weer stel hom as ‘n strooipop op.

Hans Richardt ·

Ek hoor nooit dat aarde te veel mense het nie, wat al die probleme veroorsaak.

André André ·

Jy is nie verkeerd nie, dit is nou die dag in ‘n artikel belig en daarin is ook uitgewys dat die wêreld populasie groei huidiglik met net oor die 82 miljoen mense ‘n jaar.

Ian ·

Die tyd vir draadsit is verby! Die wêreld is in ‘n kritiese tyd waar die klimaks nou binne paar dae op die horison ‘n moontlikheid is.
Maak seker of jou oortuiging van wat jy glo, waarheid of valsheid het as fondament. Dit het baie duidelik geword dat gruwelike motiewe agter baie leuns is. Die lesers moet hul eie navorsing doen en die waarheid sorgvuldig sif!

Of bly eerder onkundig en loop maar blindelings voort!

TDW ·

Klimaatsverandering godsdiens is net ‘n manier om mense met nog meer belasting te belas.
Ons bly in ‘n baie slegte tyd waar daar meer omgegee word vir die lewens van babahondjies as baba fetusse.
Ons moet ons prioriteite reg kry.
Besoedeling is ‘n probleem, klimaatsverandering is natuurlik.
Ons moet na die diere omsien, maar onthou menselewens is belangriker.
Daar moet ook onthou word dat nie so lank terug nie het dokters vir mense gesê rook is goed vir jou.
Mense opinies verander, selfs die gekwalifiseerde mense.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.