Ouers sukkel om baba te registreer

Argieffoto

Die departement van binnelandse sake gaan glo alles in sy vermoë doen om baba Jaco Smith se geboorte te registreer.

Jaco se ouers, Braam en Suzette Smith, sukkel glo al maande lank om hul vroeggebore seuntjie te registreer. “Alhoewel ons nie van die besonderhede in die spesifieke geval bewus is nie, is ons besorg daaroor,” het Ronnie Mamoepa, woordvoerder vir die departement, gesê.

Die departement het vroeër glo geweier om die baba te registreer, aangesien die stelsel nie voorsiening daarvoor maak dat meer as een baba per jaar vir dieselfde stel ouers geregistreer kan word nie. Jaco is skaars sewe maande ná sy ouer boetie, William, gebore.

Braam (43) en Suzette van Komatipoort in Mpumalanga is deur die mobiele departement by die hospitaal ingelig dat hulle nie hul seuntjie kan registreer nie, berig Beeld. Die beampte het glo gesê dat hy die hoofkantoor in Pretoria sal kontak om die probleem op te los, maar tot dusver was daar nog geen oplossing nie.

Braam het sy mediese fonds oor die probleem in kennis gestel, maar totdat hy hulle nie van ʼn geboortesertifikaat kan voorsien nie, kan hulle nie sy mediese uitgawes, wat tans R1 miljoen beloop, dek nie.

Baba Jaco het ʼn virus opgedoen en moes na Pretoria gevlieg word waar hy ʼn maand lank in die neonatale-hoësorgeenheid in die hospitaal spandeer het. Jaco is nou drie maande oud.

Mamoepa sê die departement het die binnelandsesake-stelsel aan hospitale, klinieke, en gesondheidsorgstelsels in die land verbind om ma’s te help om hul kinders by geboorte te registreer.

-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.