ʼn Vrou en twee mans wat daarvan beskuldig word dat hulle ʼn Gautrain-busbestuurder in Centurion geskiet en gewond het, het Woensdag in die landdroshof in Pretoria verskyn.
Die saak teen Busisiwe Malema (29), Frans Makadikoa (47) en Jan Gijima Ndlovu (47) is tot Donderdag uitgestel wanneer ʼn datum vir ʼn formele borgaansoek geskeduleer sal word. Hulle word elk aangekla van poging tot moord. Die aanklagte teen twee mense wat saam met hulle in hegtenis geneem is, is teruggetrek. Die vyf is Maandag in hegtenis geneem in verband met die skietery op ʼn Gautrain-busbestuurder tydens ʼn proeflopie van busroetes in Centurion. Voormalige Gautrain-busbestuurders was ook in die hof om hul steun aan die aangeklaagdes te toon. Gautrain woordvoerder Errol Braithwaite het Woensdag gesê die gewonde bestuurder se operasie is suksesvol voltooi en hy sal na verwagting binnekort ontslaan word.
Gautrain-busbestuurders het in Januarie gestaak, aangesien hulle ongelukkig was met hul werksomstandighede. Hulle wou gehad het dat MegaExpress, die maatskappy wat die Gautrain-busse beheer, moet hulle tussen hul huis en werk van vervoer verskaf en hul wou ook ʼn verandering in hul werksure hê. Dienste is onderbreek en werknemers is intimideer sedert meer as 300 bestuurders wat aan die staking deelgeneem het, ontslaan is.