Regstreekse gesprek: Is plaasaanvalle deel van ʼn kultuur van geweldsmisdaad in SA?

 plaasaanval-fin.jpgDie kwessie van plaasaanvalle is op ʼn spits gedryf met die wrede moord op die jong plaasbestuurder Brendin Horner twee weke gelede. Die gemoedere het hoog geloop by die eerste hofverskyning van die twee verdagtes, met honderde boere en ander gemeenskapslede wat by die hof opgedaag het. Pres. Cyril Ramaphosa, wat tot dusver grootliks stil was as dit kom by plaasaanvalle, het kort daarna in sy weeklikse nuusbrief gesê Horner se dood mag Suid-Afrikaners nie onaangeraak laat nie – net soos dié van enige geweldsmisdaad in Suid-Afrika.

Individue en organisasies se reaksie hierop was heftig, en het nie net die probleem van plaasaanvalle nie, maar ook van geweldsmisdaad in Suid-Afrika opnuut onder die vergrootglas geplaas. Daar is dié wat van mening is – soos pres. Ramaphosa – dat plaasaanvalle nie uitgesonder behoort te word nie omdat die klem eerder daarop moet val om die algemene kultuur van geweldsmisdaad in Suid-Afrika te takel. Ander reken daar is meer as genoeg rede om ʼn gefokusde benadering tot die hantering van plaasaanvalle te volg as gevolg van onder meer die rol wat boere en hul werkers in die land se ekonomie speel.

In Maroela Media se regstreekse gesprek om 15:00 vandag gaan ons poog om dié kwessie te ontrafel. Waar staan ons met betrekking tot geweldsmisdaad in Suid-Afrika? Wat maak ʼn gewelddadige aanval op ʼn plaas anders as ʼn gewelddadige aanval in ʼn stad of ʼn informele nedersetting? Speel aspekte soos loon- en arbeidsgeskille, die afgesonderdheid van plase, toegang tot waardevolle eiendom, en, les bes, rasgedrewe motiewe, ʼn rol wanneer dit by plaasaanvalle kom?

Daar is ook vrae wat gevra moet word oor die impak van plaasaanvalle op die groter Suid-Afrika. Watter impak het dit op landbou in SA, en wat is die potensiële impak hiervan op SA vorentoe?

Belangrike kwessies wat ook bespreek moet word, is hoe die pad vorentoe lyk. Wat behoort gedoen te word deur die regering asook deur privaat instansies en deur die gemeenskap self?

Paul Maritz gesels regstreeks oor hierdie en ander moeilike kwessies aangaande geweldsmisdaad in SA en spesifiek plaasaanvalle met dr. Pieter Mulder, voormalige lid van die parlement en leier van die VF Plus, en dr. Johan Burger, konsultant by die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS). Volg die regstreekse uitsending van hierdie gesprek Woensdag 14 Oktober om 15:00 op Maroela Media se Facebook-blad. Die video sal ook onderaan hierdie artikel beskikbaar wees.

 

Geweldsmisdaad

Suid-Afrika is ʼn land wat sukkel met gewelddadige misdade. Dis ʼn algemene probleem, en is nie beperk tot plaasaanvalle nie. Daar word daagliks moorde gepleeg in ons land – in stede, dorpe, informele nedersettings en natuurlik, plase. Waar staan ons met die situasie met betrekking tot geweldsmisdaad in Suid-Afrika? En vanuit dié agtergrond vra ons dan: Is aanvalle en moorde op plase iets anders as ʼn moord in ʼn dorp of informele nedersetting? En indien wel, waarom? Watter rol speel aspekte soos loon- en arbeidsgeskille, die afsondering van slagoffers op plase, toegang tot waardevolle besittings, vuurwapens en motors? Van hier kan ʼn mens die onderwerp ʼn bietjie vernou na: Hoe lyk die profiel van ʼn plaasaanvaller? Watter impak het plaasaanvalle tans op landbou in SA, en wat is die potensiële impak hiervan op SA vorentoe? Wat behoort gedoen te word aan die kwessie Wat is die ideale optrede wat ons van die regering verwag, maar veral en eerder, wat kan ons as ʼn gemeenskap self doen om hierdie probleem te help aanspreek?Maak jy in dié tyd staat op Maroela vir betroubare, gebalanseerde nuus en gesprekke wat jou ingelig hou soos hierdie een? Maak 'n finansiële bydrae om Maroela te help om hiermee vol te hou. Besoek https://maroelamedia.co.za/donasies/ om meer te lees oor hoe jy Maroela kan ondersteun.

Posted by Maroela Media on Wednesday, October 14, 2020

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.