Rouel Beukes gesels oor aftrede, ‘vol lewe’

Rouel Beukes ontvang die Chris Blignaut-prys. (Foto: Verskaf/FAK)

Wanneer ʼn mens aan Rouel Beukes dink, is dit moeilik om nie sy dawerende basstem in jou gedagtes te laat weerklink nie.

Deur die jare heen het Rouel die wêreld platgetoer as deel van sy werk as operasanger. Hy het homself in luukse hotelle, eksotiese dorpies en wêreldstede bevind.

“Dis ʼn vol lewe,” erken hy aan Maroela Media.

Rouel het in sy loopbaan, wat oor dekades strek, bekendheid verwerf as operasanger en akteur. Hy is onlangs deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) vereer met die Chris Blignaut-toekenning vir sy lewenslange bydrae tot die Afrikaanse kunste.

Hy is veral bekend vir sy rolle in rolprente soos Liefling, verhoogproduksies soos Ons vir jou wat destyds in die Staatsteater in Pretoria aangebied is en vir operas soos The Phantom of the Opera en Le nozzi di Figaro.

Deesdae geniet Rouel egter sy aftrede saam met sy vrou, Eureke, by die Negester-leefstyloord naby Bela-Bela. Of “semi-aftrede”, soos hy daarna verwys.

“Ek is nie aangewese op werk nie, sonder om blasé te klink, natuurlik. Ek is in ’n stadium van my lewe waar ek kan kies wat ek wil doen en wanneer ek dit wil doen.”

Sy stem is beslis nog nie heeltemal stil in die vermaakbedryf nie. Hy het pas in twee rolprente gespeel, verklap hy, en beplan nog drie konserte voor die jaar om is.

Wanneer Rouel wel besig is om voor te berei vir ’n volgende projek, begin hy sy dag in sy gemakstoel, besig om die woorde van sy volgende karakter onder die knie te kry.

“Dit voel partykeer vir my hoe ouer ʼn mens raak, hoe langer vat dit om dinge in jou kop te kry. Jy is nie meer ’n jong man wat soos ’n spons alles inneem nie.”

Rouel Beukes en sy gesin. (Foto: verskaf)

Hy dwaal af en dink aan sy twee kleinseuns, die vierjarige Davey en die tweejarige Joshua. Die kroos van sy dogter, Nadia, en haar man David.

“Jy kan vir daardie twee een ding sê en dan onthou hulle dit vir die res van hul lewens. Dan is dit nog moeilike woorde ook.”

ʼn Mens kan die trots in sy stem hoor. Hy lag en gaan dan aan om oor sy tipiese dag te gesels.

Wanneer die takies, soos grassny, klaar is, hou Rouel en Eureke daarvan om te gaan swem. Hoewel hulle hul eie swembad het, hou die egpaar daarvan om die vrye toegang wat hulle tot Klein Kariba se warmwaterswembad het te benut.

“En vanaand kom kuier daar vriende. Dan maak ons paella terwyl ons kyk hoe die dag gaan slaap en die nag wakker word.”

Verlang hy na die dae van toer, groot verhoë en ingewikkelde operas?

Nee. Die tyd wat hy saam met sy vrou en familie deurbring is te kosbaar vir hom om te wil terugkeer na ’n vorige lewe.

Rouel Beukes in aksie. (Foto: verskaf)

Rouel koester die oomblikke van liefde en samesyn wat hy met Eureke deel. Ná 44 jaar se getroude lewe is die egpaar steeds gaande oor mekaar.

“Ons ken mekaar eintlik al 48 jaar. Ons wou in ons tweedejaar verloof raak, maar ons ouers het ’n stokkie daarvoor gesteek en wou eers hê dat ons die papiere moes kry.”

Hulle het in hul eerste jaar op universiteit ontmoet, albei as onderwysstudente. Eureke het aangegaan met ’n loopbaan as onderwyser, terwyl Rouel na twee jaar in die beroep deel geword het van die Transvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste (Truk) se operageselskap.

“My loopbaan was my hele lewe lank ’n geloofsaak. Ons leef na aan die Here, Hy gee my rigting.”

Wat is die geheim aan ’n huwelik wat oor vier dekades strek?

Om mekaar se lewens ten volle te deel.

“Wanneer sy ’n hartseer fliek wil kyk, iets waarin ek nou nie eintlik belangstel nie, en sy my vra om dit tog saam met haar te kyk, doen ek dit,” sê hy.

“En andersom ook. Ek hou daarvan om sommige oggende te gaan visvang by Klein Kariba, iets waarvan sy nou weer glad nie hou nie. Wanneer ek haar vra om tog saam met my te kom vir geselskap, stem sy in. Dan drink sy saam koffie terwyl ek visvang.”

Hoewel hy nie een oomblik spyt is oor die lewe propvol avontuur wat hy nie meer het nie, is dit oomblikke soos dié wat hy die meeste geniet.

“Ons het deur ons getroude lewe mekaar dikwels maande lank nie gesien nie.”

Rouel en Eureke is tans besig om hul tasse te pak vir ’n ses weke lange kuier by hul seun, sy vrou en hul dogtertjie in Australië.

“Sy was in doeke toe hulle vier jaar gelede hier weg is. Dit was die laaste keer wat ons hulle gesien het.”

Oor tegnologie is Rouel onbeskryflik dankbaar. Dit was die enigste manier om steeds met hul kinders te kon gesels.

Hy sien uit daarna om sy kleindogter weer te sien, maar wonder hoe sy gaan reageer.

“Sy ken ons as die oupa en ouma op die skerm. Ek weet nie of sy dalk eers skaam gaan wees voordat sy gaan besef dat dit werklik ons is nie.”

Dit raak nie makliker vir ’n ouerhart om vrede te maak met kinders wat in die buiteland bly nie, erken hy. Wanneer hy oor hulle praat, is dit dikwels moeilik om die trane te keer.

Iets het egter in Rouel se hart verander die dag toe hy ’n oupa geword het.

“Dis ’n totale omwenteling in jou lewe. Dit was altyd net werk, en nou besef jy dat jy ’n ander rol moet begin vervul.

“Daar is vir ’n oupa niks lekkerder om te gaan kuier met die twee kleintjies wat op ʼn mens afstorm, groet en hul arms om jou nek gooi nie.”

Min mense weet egter dat Rouel ʼn gekwalifiseerde toergids is. Op 48 het hy kursusse voltooi om ʼn toergids, jagter en veldwagter te word nadat Truk, gesluit is. Sy liefde vir die natuur en diere het hom genoop om sy eie toeronderneming saam met ʼn vriend te begin.

Rouel Beukes en sy vrou, Eureke. (Foto: verskaf)

Toe kom die aanbod wat hy nie kon weerstaan nie. ’n Uitnodiging om deel te word van die Phantom of the Opera-geselskap, sy goue wortel, soos wat hy daarna verwys. Vir die volgende 16 jaar van sy lewe sou Rouel deel van die geselskap wees.

Hy dink aan 2020, dit was ’n moeilike jaar vir hom en sy gesin. Eureke was destyds saam met hom op toer, maar moes terugkeer Suid-Afrika toe om Nadia by te staan met die geboorte van haar tweede seun.

“Toe slaan Covid-19 toe. Ek was in Korea en sy in Suid-Afrika. Ons het mekaar vir agt maande nie gesien nie.”

Na dié tydperk het hy besluit dit is tyd om huis toe te kom.

“Ek was deur my lewe dikwels en vir lang tye op ’n slag van die huis af. Ek het nog altyd gesê wanneer ek terugkom, hou ons van voor af wittebrood.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.