Die oorledenes van die tragiese ongeluk 21 April op die R25-pad buite Bronkhorstspruit word onderskeidelik Saterdag en Sondag begrawe.
Altesaam 20 mense, onder wie 18 skoolkinders, is in dié ongeluk dood.
ʼn Minibus het teen ʼn vragmotor gebots en aan die brand geslaan. Die leerders was van Refano Primary School en Mahlenga Secondary School in Sokhulumi op pad na hul huise in onderskeidelik Wolvenkop en Verena in Mpumalanga.
Slegs een mens kon ná die ongeluk uitgeken word en daar moes DNS-toetse op die ander leerders gedoen word om hul identiteit vas te stel. Sewe leerders het die ongeluk oorleef. Drie van hulle is steeds in die hospitaal.
Volgens die departement van onderwys is die identifiseringsproses Maandag afgehandel deur forensiese deskundiges. Die begrafnisreëlingskomitee word gelei deur Pat Ngomane, provinsiale LUR vir gemeenskapsveiligheid, en Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys. Hulle het met familielede van die oorledenes gesels.
Altesaam 16 leerders en die assistent wat in die taxi was, sal Saterdag in Wolvenkop en Verena begrawe word en twee leerders sal Sondag in KwaZulu-Natal en Limpopo onderskeidelik begrawe word.
Dié begrafnisse volg ná die begrafnis van die taxibestuurder, Amos Mnguni (76), verlede Saterdag in Wolvenkop.