200 sake laat vaar weens power polisiewerk

(Argieffoto: SA Polisie)

Deur Mary-Anne Gontsana, GroundUP

Byna 200 sake voor die howe in die Wes-Kaap is binne drie maande laat vaar weens onbevoegdheid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD).

Reagan Allen, die Wes-Kaap se LUR van gemeenskapsveiligheid en polisietoesig, het vandeesweek onthul dat 36 sake van geslagsgebaseerde geweld tussen April en Junie teruggetrek óf van die rol geskrap is weens sistemiese mislukkings.

Altesame 25 van dié sake is teruggetrek bloot omdat die dossiere nie by die hof ingedien is nie en agt omdat die ondersoek onvolledig was.

Janelle Laattoe, ’n mishandelingslagoffer van Mitchells Plain in Kaapstad, het vroeër vandeesweek tydens ’n geleentheid van die drukgroep Action Society gesê die staat en polisie se onbevoegdheid het ná die mishandeling selfs meer trauma by haar veroorsaak.

“Ek was drie jaar lank in ’n verhouding wat versuur het. Ek het elke vorm van mishandeling verduur. Ek het my arm vergruis tot die punt waar ek ligamentrekonstruksie nodig gehad het. Ek het ’n metaalplaat in my arm, asook permanente littekens van toe ek by ’n teerpad af gesleep is.”

Laattoe het in 2019 ’n saak by die Delft-polisiestasie aanhangig gemaak en haar mishandelaar het verskeie kere in die hof verskyn. Die saak is egter in Desember 2021 teruggetrek sodat die staat nog mediese verslae en verklarings kon bekom.

Sy vertel dat sy in Januarie nog getuienis by die ondersoekbeampte ingedien het. Toe sy in Julie navraag oor die saak doen, is daar aan haar gesê dat die dossier vermis word.

“Sommige vroue is bang om na vore te kom, want hulle sê wat is die punt as geregtigheid nie geskied nie.”

Ian Cameron, direkteur van gemeenskapsveiligheid by Action Society, het gesê die drukgroep sal die onafhanklike ondersoekdirektoraat (Opod) vra om ondersoek in te stel.

Cameron het voorts gesê dossiere word dikwels vermis, “nie noodwendig weens ’n strafregtelike oortreding nie, maar weens die chaos waarin sommige van hierdie speurders moet werk”.

“Baie van die speurders in die Kaapse Vlakte-streek het meer as 300 dossiere op hul tafels.”

  • Die Wes-Kaapse polisie het in antwoord op ’n lys van geskrewe vrae van GroundUp slegs ’n algemene kommentaar verskaf rakende polisievoertuie wat weens instandhouding nie altyd beskikbaar is nie. Die betrokke woordvoerder het egter nie reageer op die vraag oor hoe die polisie dossiere bestuur nie.

Hierdie berig het oorspronklik op GroundUp verskyn. Lees die volledige berig hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.