291 jaar tronkstraf vir vrou wat bedrieg

Argieffoto (Foto: Steve Buissinne / Pixabay)

Lerato Patricia Mufamadi (42), voormalige uitvoerende administrateur by MMG South Africa, is Maandag in die Palm Ridge-landdroshof 291 jaar tronkstraf opgelê op aanklag van bedrog.

Kapt. Lloyd Ramovha, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke), sê Mufamadi se pligte het ingesluit om onder andere die kleinkasgeld te ontvang en die maatskappy se fakture te prosesseer. In plaas daarvan om verskaffers te betaal, het sy die geld in haar persoonlike bankrekening en ʼn onbekende FNB-rekening inbetaal.

“Die maatskappy het in Februarie 2022 op die bedrog afgekom en die saak is by Rosebank-polisiestasie aangemeld. Die saak is na die Valke se eenheid in Johannesburg, wat ernstige handelsmisdaad ondersoek, oorgeplaas. Sy is op 4 April 2023 in hegtenis geneem.”

MMG het ʼn verlies van R15 miljoen gely weens die vrou se bedrog.

Mufamadi het skuld beken en is gevonnis op verskeie aanklagte van bedrog. Sy is 15 jaar tronkstraf opgelê vir 13 aanklagte en agt jaar elk vir 12 aanklagte. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word. Ramovha sê sy sal effektief 18 jaar tronkstraf uitdien.

Genl.maj. Ebrahim Kadwa, provinsiale hoof van die Valke, het die ondersoekbeamptes en vervolgingspan geloof vir die rekordvonnis.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Tallies ·

Dan het Hildegarde Steenkamp lekker lig afgekom met haar 50-jaar vonnis vir R573mil se bedrog.

SjN ·

Hoekom word daar nie ook so vinnig opgetree en vonisse gevel teen die korrupte kaders nie?

Robert ·

291 jaar vonnis waarvan slegs 18 jaar effektief uitgedien sal word. Samelopend. Net ń vraag: Wat is dan die doel van ń vonnis van 291 jaar eintlik? Hoeveel jaar voor sy in aanmerking kom vir parool?

Cassie Carstens ·

Hou die spasie dop – oor ‘n paar jaar koop sy die gevangenisdiens om en stap vry uit op parool. Met R15m kan jy baaie doen.

RissiepitAnna ·

Mense, is dit nie SKOKKEND dat jy soveel jaar vir bedrog kry, …maar vir moord, mense handel, kinder pornografie etc, net n paar jaar, en dan erge diere mishandeling net n tik oor die vingers en klein boete nie?
(en dan word die karakters wat NIE in die samelewing hoort nie, vry gelaat voor verkiesings en wanneer die president “verjaar”, elke jaar) SIEK & SKOKKEND…..

Marius ·

As die dame 291 jaar kry dan is daar mense wat lewenslank moet sit wat n hele land verkoop het en die geld in sy rekening betaal het , of is ek verkeerd ?????

Di ·

Wonder net hoeveel tronkstraf die korrupte ANC KADERS sou kry indien hulle wel gevonnis sou word! Tot vandag toe loop hierdie skelms nog almal vry rond en regeer nog steeds die land! Lyk my die wette geld net vir sekeres in die land.

Casper ·

Ag tog spaar my dit,hoekom 291 jaar opper as sy net 18 jaar gaan sit en vet word in die tronk op belastingbetalers se geld,m….e.

Niklaas ·

Iets maak nie lekker sin vir my nie. Die hoofopskrif basuin dit uit dat sy 291 jaar kry. Daanvan gaan sy net 18 jaar uitdien. Nou hoe rym dit ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.