45 sterf in Limpopo-busongeluk

(Foto: Traffic Policing Affairs Limpopo/Facebook)

Minstens 45 persone is Donderdag dood in ʼn ongeluk in Limpopo. Die bus het Paasfees-pelgrims van Botswana na Moria vervoer toe die ongeluk op die R518 naby Mokopane (Potgietersrus) plaasgevind het.

Pres. Cyril Ramaphosa het sy innige meegevoel betuig in ʼn oproep aan Botswana se president Mokgweetsi Masisi.

Masisi het sy dankbaarheid uitgespreek oor die samewerking wat die regering van Botswana ontvang het van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, asook verskeie provinsiale en plaaslikeregeringstrukture.

Florence Radzilani, LUR van vervoer in Limpopo, het die ongelukstoneel by die Mma Matlakala-brug, tussen Marken en Mokopane, besoek. Die minister van vervoer, Sindisiwe Chikunga, het haar vergesel.

Hulle was op pad na ʼn padveiligheidsoperasie by die Kranskop-tolplaza toe hulle die nuus oor die busongeluk ontvang het.

“Altesaam 46 mense was aan boord, insluitend die bestuurder. Slegs een kind, ʼn agtjarige, het die ongeluk oorleef en ontvang mediese behandeling by ʼn nabygeleë hospitaal,” het Radzilani in ʼn verklaring gesê.

Volgens berigte het die bestuurder van die bus beheer verloor oor die voertuig. Die bus het versperrings op die brug getref en oor die brug gery. Die bus het sowat 50 meter onder die brug te lande gekom en aan die brand geslaan.

Reddingsoperasies het tot laat Donderdagaand voortgeduur. Van die liggame is onherkenbaar verkool. Ander was in die puin vasgekeer en ander liggame het op die toneel verspreid gelê.

Chikunga het ook haar innige meegevoel betuig met die families wat deur die tragedie geraak is. “Ons dink aan en bid vir julle in hierdie moeilike tyd.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.