50 sonder heenkome ná brand in Johannesburgse middestad

Die brandweer vanoggend op die toneel. (Foto: X)

Sowat 50 mense sit sonder ʼn heenkome nadat daar Saterdagoggend ʼn verwoestende brand in ʼn gebou in die Johannesburgse middestad uitgebreek het.

Daar was 20 plakkershutte binne-in dié gebou op die hoek van Kerk- en Goudstraat opgerig toe dit vroegoggend aan die brand geraak het. Die plakkershutte is almal in die brand vernietig.

Nana Radebe-Kgiba, woordvoerder van die Johannesburgse nooddienste, sê die gebou was by die nooddienste se aankoms op die toneel reeds deur die vlamme verswelg.

“Die brand het baie vinnig versprei as gevolg van die vlambare materiaal wat gebruik is om die skuilings te bou.”

Radebe-Kgiba sê geen sterftes is aangemeld nie. Een pasiënt is wel vanoggend na ʼn hospitaal vervoer vir mediese behandeling.

ʼn Ondersoek na die oorsaak van die brand sal gedoen word.

Die Stad Johannesburg se rampbestuureenheid was vanoggend op die toneel om die families by te staan wat deur die brand geraak is.

Dié gebou is nie ver geleë van die gekaapte Usindiso-gebou op die hoek van Albert- en Delverstraat in Marshalltown wat in Augustus verlede jaar aan die brand geraak het nie. Dié brand in die vroeë oggendure van 31 Augustus verlede jaar het die lewe van 76 mense geëis.

Maroela Media het vroeër vandeesweek berig Sithembiso Mdlalose, die man wat vroeër erken het dat hy verantwoordelik was vir die verwoestende brand, het net vroeër vandeesweek sy aansoek om borgtog laat vaar.

Mdlalose is verlede maand in hegtenis geneem nadat hy voor die Khampepe-kommissie van ondersoek na die brand erken het dat hy dit gestig het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.