Beskuldigde in Marshalltown-brand laat vaar borgtogaansoek   

Die verwoestende brand in die Usindiso-gebou op die hoek van Albert- en Delverstraat het in die vroeë oggendure van 31 Augustus die lewe van 76 mense geëis.(Foto: Luca Sola/AFP)

Die man wat van 76 moorde aangekla word ná verlede jaar se brand in Marshalltown in Johannesburg, het Donderdag sy borgtogaansoek laat vaar.

Die saak teen die 30-jarige Sithembiso Mdlalose is tot 6 Maart uitgestel terwyl die ondersoek voortduur. Hy word ook aangekla van brandstigting en 86 aanklagte van poging tot moord.

Die staat het vir meer tyd gevra om sy ondersoek af te handel aangesien daar nog op sekere bewyse gewag word, waaronder 11 lykskouingsverslae.

Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, het gesê die staat wag ook om van die verdediging te hoor of daar ʼn voorstel gemaak sal word om ʼn vonnis te beding.

“Ons sal deur die verdediging gelei word as hulle met die staat wil onderhandel,” het sy gesê. “As ons hul voorstel verwerp, sal ons na die verhoorstadium beweeg.”

Mdlalose is verlede maand in hegtenis geneem nadat hy voor die Khampepe-kommissie van ondersoek na die brand erken het dat hy dit gestig het.

Die verwoestende brand in die Usindiso-gebou op die hoek van Albert- en Delverstraat het in die vroeë oggendure van 31 Augustus die lewe van 76 mense geëis.

Die kommissie van ondersoek na die brand is deur Panyaza Lesufi, die Gautengse premier, aangestel en het in Oktober met sy werksaamhede begin.

Die ondersoek word in twee fases gedoen. Die omstandighede rakende die verwoestende brand is tydens die eerste fase ondersoek. Die voorkoms van sogenaamde gekaapte geboue (deur misdaadsindikate) in die Johannesburgse middestad het óók in dié fase van die ondersoek aandag geniet.

Die tweede fase van die ondersoek wat vandeesmaand begin het, sluit in die nodige waarnemings en bevindings oor wie aanspreeklikheid of verantwoordelikheid vir die tragedie behoort te aanvaar.

Sisi Khampepe, afgetrede regter van die Konstitusionele Hof, is as voorsitter van die kommissie aangewys. Adv. Thulani Makhubela en Vuyelwa Mathilda Mabena sal Khampepe in die onafhanklike ondersoek bystaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Peter ·

Nou toe nou daar is n verdagte in die saak wat het van daai minister se stelling geword van dit is apartheid se skuld

George ·

@Jaco, hy wou van n lyk ontslae raak van iemand wie hy vermoor het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.