Rits nuwe Omoda-, Jaecoo-modelle op pad na SA

(Foto: Verskaf)

Deur Martin Pretorius

Chery is ʼn reusemotorvervaardiger uit China wat reeds groot gewildheid in Suid-Afrika verdien het, maar die Chery-groep vervaardig ook ʼn reeks handelsname wat vir uitvoermarkte bestem is. Hierdie motors spog met unieke ontwerpe en klim in die kryt teen gevestigde Europese vervaardigers onder die vaandels van Omoda en Jaecoo.

Tot dusver ken ons Omoda slegs as ʼn klein sportnutsvoertuig met ongewone stilering, en Jaecoo as ʼn indrukwekkende nuweling wat minder as ʼn maand gelede eers amptelik voet op Suid-Afrikaanse bodem gesit het. Nou het Omoda en Jaecoo ons ʼn voorskou gegee van die nuwe modelle wat op pad is om hul reekse uit te brei, met aanduidings van wanneer die nuwelinge hul opwagting by ons gaan maak.

Omoda C9

Die eerste nuwe Omoda waarna ons kan uitsien, is die nuwe C9 – ʼn groot sportnutsvoertuig wat in China bekend staan as die “Exeed RX”. Soos sy C5-kleinboet probeer hy hard om soos ʼn koepee te lyk, maar inderwaarheid is dit ʼn ruim stasiewa met stilering wat baie aandag op ons paaie gaan trek.

Die voertuig is welbedeeld onder die enjinkap danksy ʼn 2.0 liter-viersilinder-turbo-enjin wat 193 kW en 400 Nm na al vier wiele stuur deur ʼn sewegang-dubbelkoppelaarratkas. Hierdie viertrekstelsel is baie gevorderd en kan binne slegs 70 millisekondes al die wringkrag na ʼn enkele wiel gelei indien nodig.

Hy het ook aktiewe skokbrekers wat hul styfheid binne millisekondes kan wysig om bakrol, padskokke en ongewenste neusduikery tydens harde rem-episodes te verban. Sy kajuit is slim en luuks, met onder meer ʼn wye verskeidenheid van veiligheidstoerusting, reusekleurskerms voor die bestuurder, verkoelde 50 W- draadlose selfoonlaaiplek, sagte “Nappa”-leerbekleding en elektriese verstelling vir die voorsitplek

Die Omoda C9 sal in 2024 se derde kwartaal in Suid-Afrika land en die pryse sal aangekondig word wanneer dit opdaag.

Omoda E5

Dít is die elektriese weergawe van die bestaande Omoda C5 en hy lyk, behalwe vir sy roosterlose neus en ander wielontwerp, net soos sy tweeling. Met sy 61 kWh-battery behoort hy tot 430 km tussen laaisessies te kan ry en danksy 150 kW en en 340 Nm reken Omoda dat hy binne 7,2 sekondes van stilstaande tot 100 km/h kan wikkel.

Sy batteryverrigting is selfs meer indrukwekkend, omdat hy met ʼn gelykstroomlaaier tot 80 kW kan absorbeer. Dit sal hom toelaat om sy battery van 30% tot 80% te laai in net 28 minute en hy kan tot 3.3 kW elektrisiteit aan jou huis lewer wanneer Eskom droogmaak. Die E5 se battery gebruik lithium-ysterfosfaat-tegnologie, wat minder skadelik vir die omgewing is as die lithium-kobalt-batterye wat tans wyd gebruik word.

Die Omoda E5 se plaaslike bekendstelling word beplan vir die tweede helfte van 2024, en sy prys sal aangekondig word tydens sy vrystelling.

(Foto: Verskaf)

Jaecoo J8

Hierdie model is groter en luukser en het meer krag as die J7 wat halfpad deur April in Suid-Afrika beskikbaar gestel is. Die Jaecoo J8 gaan egter net so bekwaam op die pad en in die bos wees as sy kleiner stalmaat.

Die J7 poog om jonger kopers se aandag te trek, maar die J8 het daardie jonger kopers se base in sy visier.

Hy is gerond en elegant buite, met ʼn prominente sierrooster, vloeiende lyne en versteekte deurhandvatsels soos dié van die J7. Die kajuit mag egter sy beste eienskap wees, danksy ʼn moderne aanslag met ʼn reusekleurskerm en ʼn Mercedes GLE-agtige ontwerp. Moet ook nie van sy ultragemaklike sitplekke en hope kajuitruimte vergeet nie; hierdie groot sportnutsvoertuig se eerste prioriteit is gerief!

Die meganiese spesifikasies is ook heel indrukwekkend, danksy dieselfde 2.0 liter-turbo-petrolenjin met 193 kW en 400 Nm en sewegang-dubbelkoppelaarratkas as in die Omoda C9. En, net soos in die Omoda C9 en Jaecoo J7, gebruik die J8 se viertrekstelsel koppelaars met elektroniese beheer wat binne millisekondes die wringkragverspreiding tussen die wiele verander om daarvan ʼn ware veldvoertuig te maak.

Hierdie vierwielaandrywing is soortgelyk aan dié van ʼn Range Rover, want die onderdele en beheerstelsel wat dit moontlik maak, word in albei gevalle van die spesialisverskaffer GKN verkry. Die Jaecoo J8 beskik ook oor aktiewe dempers met verskeie werksmodusse om die bakwerk se bewegings in toom te hou en terselfdertyd gemaklike ritgehalte te handhaaf.

Die Jaecoo J8 sal ook in 2024 se tweede helfte in Suid-Afrika land, aanvanklik slegs met die 2.0 liter-turbo-enjin. Ons het nog geen aanduiding van rigpryse nie, maar ʼn bekendstellingsprys van minder as R1 miljoen word tans gefluister, wat dui op hope luuksheid, werkverrigting en ruimte in ʼn relatiewe winskopiepakket.

Toekomstige Omoda-, Jaecoo-modelle

Die ander Jaecoo wat nog op pad is, staan bekend as die J6. Hierdie oulike buksie lyk soos ʼn kruising tussen ʼn Jimny en ʼn Defender en behoort heelwat aandag op verkoopsvloere te trek.

Die J6 sal net met batterykrag in Suid-Afrika verkoop word, met kraglewering wat wissel tussen 137 kW (enkelmotor) en 208 kW (dubbelmotor), en ʼn 69.8 kWh-lithium-ysterfosfaat-battery om die elektriese motor(s) te voer. Ons weet egter nog nie wanneer die J6 sy opwagting gaan maak, of hoeveel dit gaan kos nie.

Voorts sal die inprop-hibried-variante (PHEV) van die Jaecoo J7, J8 en Omoda C9 ook uiteindelik bekendgestel word. Die J7 PHEV gebruik ʼn soortgelyke stelsel as die opkomende Chery Tiggo 9, en sal hier ook omtrent 175 kW en 385 Nm lewer. Die J8 PHEV sal egter aansienlik meer krag as die aanvanklike 2.0 liter-weergawe lewer, met 280 kW en 605 Nm onder die pedaal. Die Omoda C9 PHEV sal spog met dieselfde syfers as die J8 PHEV, maar dit word toegedraai in ʼn gladder en meer sportiewe baadjie.

Laastens het Omoda ook sy nuwe C7 aan die wêreld bekendgestel, kort ná afloop van die 2024-Beijing-motorskou. Daar is nog nie veel inligting beskikbaar oor hierdie middelrang-model nie, behalwe dat dit aanvanklik deur dieselfde hibriedstelsel as die Jaecoo J7 aangedryf sal word.

Die C7 is ʼn tegnologiese fees, met verskeie slim maniere om kajuitgeruis en padskokke te demp, asook hope toerusting en bestuurhulpmiddels as deel van die pakket. Ons sal verder berig oor die Omoda C7 sodra meer besonderhede beskikbaar word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.