Hallo(da) Omoda

Omoda se C5 is ʼn middelslag-sportnuts met ʼn uiters moderne voorkoms en sy sportiewe aanslag, luukse afwerkings en prys maak van hom ʼn bekostigbare gesinsmotor.

Omoda is Chery se nuwe weelde-handelsmerk en die C5 is sy eerste produk in Suid-Afrika. Daar was aanvanklik drie modelle in die reeks, maar Omoda het aangekondig dat hy die reeks na vyf modelle gaan uitbrei. Die prys wissel tussen R447 900 en R509 900 wat hom ʼn sterk mededinger in die betrokke kategorie maak.

Die C5 se voorkoms trek dadelik die aandag en in die meer as 400 km wat ek en my gesin tussen Pretoria en Alldays afgelê het, het dit menige koppe laat draai en selfs ʼn paar monde laat oophang. Die ontwerp, en spesifiek die diamantvormige sierrooster, is baie futuristies en van die kant af neem die C5 ʼn sportiewe houding in met ʼn skuins daklyn.

Die kajuit is ook uiters modern met leerbekleedsel en sagte panele. Die breë digitale skerm herinner aan die jongste Mercedesse en stemmingsbeligting rond die moderne prentjie af. Die naatlose middelkonsole met die stomp breë rathefboom en elektroniese handrem, groot laaimatjies en bekerhouers is baie gerieflik en vertoon mooi.

Die groot raakskerm en diep elektriese sportsitplekke voer die sportiewe gevoel nog verder. CarPlay en Android Auto, klimaatbeheer, spoedkontrole en laaipoorte in oormaat verseker ʼn gemaklike en sorglose rit.

Die 1.5‑viersilinderturbopetrolenjin bied 115 kW en 230 Nm wat verseker dat die C5 regtig baie gemaklik ry en vir ʼn aangename ritgehalte sorg. Omoda maak aanspraak op ʼn brandstofverbruiksyfer van 6,9 ℓ/100 km, maar tussen talle grondpaaie en paaie waar daar meer slaggate as teer is, kon ons nie by die syfer uitkom nie.

Die C5 se veiligheidsuite is werklik indrukwekkend en dus voel mens regtig gemaklik en veilig wanneer jy die langpad met jou gesin aandurf. Daar is sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding, stabiliteitsbeheer, ʼn klomp lugsakke, aanpasbare spoedkontrole, botsingwaarskuwing, noodremhulp, blindekolwaarskuwing, baandwaalwaarskuwing en nog vele meer. Daarby het hy ʼn vyfster- Euro NCAP-gradering.

Die reeks lyk só:

Omoda C5 1.5T 230T Tech R447 900
Omoda C5 1.5T 230T Lux R477 900
Omoda C5 1.5T 230T Lux S R479 900
Omoda C5 1.5T 230T Elegance R507 900
Omoda C5 1.5T 230T Elegance S R509 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/70 000 km-diensplan, 5 jaar/150 000 km-voertuigwaarborg en verstommende enjinwaarborg van 1 miljoen km aan die eerste eienaar.

Chery maak vinnig opgang in Suid-Afrika en sy Tiggo Pro-reeks is al baie gewild onder kopers.

Die Omoda C5 is beslis vir my ʼn waardige mededinger en indien jy in die mark is vir ʼn luukse gesinsvoertuig tussen R400 000 en R600 000, maak die waarborg en diensplan die C5 soveel aanlokliker. Die C5 moet beslis op jou toetsbestuurlysie wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Impact ·

Genade die pryse van karre raak heeltemal belaglik, gewone salaristrekkers kan nie meer nuwe karre bekostig nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.