Sage se voete jeuk vir sewesrugby

Dylan Sage in aksie op die sewesrugbyveld. (Foto: Rodger Bosch/AFP)

Die Blitsbokke speel Vrydag in hul eerste twee wedstryde van die Singapoer-sewestoernooi teen Spanje en Samoa en Philip Snyman sal ongetwyfeld die spelherlewingsvure wil stook.

Die Suid-Afrikaners het ʼn veel beter vertoning in die vorige toernooi in Hongkong gelewer waar hulle onder meer met Ierland en die einste Spanjaarde klaargespeel het.

Snyman is deesdae die Blitsbokke se tydelike hoofafrigter en hy het spelers soos Shakes Soyizwapi en Dylan Sage vir die Singapoer-avontuur nadergetrek.

Die 32-jarige Sage is ʼn veteraan van 26 sewestoernooie en hy het die afgelope paar jaar vyftienmanrugby saam met die Bulls en Montauban in Frankryk gespeel.

Die Olimpiese Spele dien as goeie motivering en selfs al het die Suid-Afrikaners nog nie vir die sportskouspel in Parys gekwalifiseer nie, is Sage oorgehaal om ʼn verskil in Blitsbok-kleure te maak.

“Ja, niks is nog ʼn gegewe nie, maar ek is bereid om dinge ʼn kans te gee,” het hy gesê.

Sage het weliswaar ʼn hele rukkie gelede sy laaste Blitsbok-wedstryd gespeel, maar hy vertel dat hy sonder veel moeite weer sy voete in die groep gevind het.

“Ek het al baie rugby saam met die meeste van die senior spelers gespeel en daar is net ʼn paar nuwe spelers aan wie ek moet gewoond raak. Ek wil nou net toernooie speel en weer my voete op die maat van sewesrugby laat dans.”

Die Blitsbokke is tans sewende op die amptelike HSBC-punteleer met 58 punte nadat hulle die eerste toernooi van die seisoen in Dubai gewen het.

Blitsbok-groep vir Singapoer: Christie Grobbelaar, Impi Visser, Zain Davids, Tiaan Pretorius, Selvyn Davids (kaptein), Dewald Human, Shakes Soyizwapi, Shilton van Wyk, Rosko Specman, Tristan Leyds, Dylan Sage, Quewin Nortjé en Katlego Letebele.

Bepalings:

Vrydag:

07:58: Suid-Afrika teen Spanje

13:18: Suid-Afrika teen Samoa

Saterdag:

08:24: Suid-Afrika teen Frankryk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.