Blitsbokke móét weer uitklophou kan plant – Snyman

Die Blitsbokke het in Singapoer ’n voorsprong van 10 – 0 teen Argentinië deur hul vingers laat glip. (Foto: X/Argentinië-sewes)

Philip Snyman het skerp reageer nadat die Blitsbokke hul laaste twee wedstryde in Singapoer – teen Australië en Argentinië – verloor het om die toernooi in die sesde plek af te sluit.

Teen die Aussies kon die Suid-Afrikaners nie ʼn goeie terugvegpoging afrond nie, terwyl hulle die voet van die versnelpedaal teen die vurige Argentyne gehaal het.

“Ons het in die eerste vyf minute van die wedstryd teen Argentinië gewys dat ons kliniese spel kan opdis. Wanneer ons balbesit behou, kán ons drieë druk,” het die tydelike nasionale sewesafrigter gesê.

Snyman is egter ongelukkig dat sy span nie die uitklophou kon plant nie.

Die Blitsbokke het ʼn voorsprong van 10–0 deur hul vingers laat glip om uiteindelik met 14–10 te verloor.

“Jy kan nie vir vyf minute speel en dan gaan lê nie – veral wanneer jy teen ʼn span soos Argentinië kragte meet. Hulle is tans die voorste span op die internasionale verhoog en wanneer jy hulle teen die planke het, moet jy die uitklophou kan plant.”

Die oudspeler het nie doekies omgedraai nie en bygevoeg dat sy span sukkel wanneer dinge warm in die drukkoker word.

“Ek glo dat ons goed genoeg was om in die bekerhalfeindstryd te speel, maar dit help veel om heeltyd oor dinge te tob. Dit is tyd om die daad by die woord op die speelveld te voeg.”

Volgens Snyman moet die Blitsbokke ʼn manier vind om sterk in druksituasies te staan.

“Op die oomblik maak ons benoude spronge en dan draai dinge nie uit soos wat dit moet op die speelveld nie. Ons Singapoer-mikpunt was om in die bekerhalfeindstryd te speel en ons was op koers om dit te doen, maar ons het geleenthede deur ons vingers laat glip.”

HSBC-sewespunteleer:

  1. Argentinië: 106 punte
  2. Ierland: 104 punte
  3. Nieu-Seeland: 93 punte
  4. Australië: 83 punte
  5. Fidji: 80 punte
  6. Frankryk: 80 punte
  7. Suid-Afrika: 68 punte
  8. Groot-Brittanje: 53 punte
  9. VSA: 52 punte
  10. Spanje: 36 punte
  11. Samoa: 29 punte
  12. Kanada: 14 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kroo ·

BLITSBOKKE
Net as hulle minder skop . Dit dui op:
Gebrek aan selfvertroue.
Is glad nie n ware aanvalswapen as dit verkeerd gebruik word nie.
Nooit skop in die laaste minuut van n wedstryd nie.
30% beter hantering en verdediging– leer beheersde aggressie — altyd.
Leer wiskunde elke dag, om tyd en ruimte te verbeter en toe te pas !
Die span het radikaal verbeter — maar stagneer nou weer.
Groter vinniger spelers met vaardigheid?
SELFVERTROUE ! + GELOOF

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.