Aanlyn portaal het ‘onklaar geraak’, beweer partye

(Argieffoto: Emmanuel Croset/AFP)

Uitspraak is Woensdag deur die Konstitusionele Hof voorbehou in die aansoek van politieke partye wat eis dat die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) sy verkiesingsrooster moet aanpas.

Die Arbeidersparty van die mynvakbond Amcu, die ACT van Ace Magashule en die Afrikan Alliance of Social Democrats (AASD) het die hoogste hof in die land genader om die OVK sover te kry om sy aanlyn portaal weer oop te stel sodat hulle hul kandidatelyste kan indien.

Die hof het Woensdag van die politieke partye gehoor die portaal het glo voor die sperdatum onklaar geraak terwyl hulle besig was om hul stawende dokumente op te laai.

Onlangse wysigings aan die Kieswet vereis van politieke partye om dié dokumente op te laai voordat hulle aan die verkiesing mag deelneem.

Verder vra die partye ook die hof om die verkiesingsrooster van die OVK tersyde te stel.

Die OVK het reeds op 24 Februarie die rooster in die Staatskoerant gepubliseer.

Hierna het die partye die kieshof genader. Hul aansoek is van die hand gewys ná dié hof bevind het die OVK se portaal is nie foutief nie.

Die drie partye voer aan dat hulle weens tegniese foute met die portaal gesukkel het om hul stawende dokumente teen die spertyd van 17:00 op 8 Maart in te dien.

Hul versuim om die dokumente betyds in te dien beteken hulle mag nie aan die verkiesing deelneem nie.

Die partye se onderskeie regspanne het Woensdag volgehou die portaal is foutief.

“Die stelsel was te gekompliseerd vir ʼn aansienlike aantal mense om te gebruik – dit was stadig en het gehang – en het eenvoudig nie behoorlik gefunksioneer nie,” het adv. Chris Loxton namens die Arbeidersparty betoog.

 

Hy het die regters ook daarop gewys dat die OVK self in sy opponerende hofstukke gebieg het dat slegs 65% van politieke partye daarin geslaag het om hul dokumente te laai.

Hy het verder gesê dat die party se versoek vir die verkiesings om uitgestel te word regverdig sou wees indien die Konstitusionele Hof in hul guns bevind.

Volgens hom sal dit die vertrapping van die partye asook burgers se grondwetlike regte verhoed.

“Dit sal regverdig wees om die OVK te vra om die president te versoek om die verkiesings uit te stel, want die verkiesing, as dit wel plaasvind [op 29 Mei], sal nie vry en regverdig wees nie,” het Loxton betoog.

Adv. Michael Bishop, vir die OVK, het betoog die partye sou nie weggewys word indien hulle betyds hul dokumente ingehandig het nie. Die partye kon ook die nodige dokumente by die OVK se kantore ingedien het.

Hy het volgehou die stelsel het behoorlik gewerk.

Die volbank regters het uitspraak voorbehou, maar nie aangedui wanneer en hoe hul besluit bekend gemaak sal word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jack ·

Nee wat die sirkus gaan voort.As die verkiesing uitgestel word gaan dit BAIE mense en ondernemings se beplanning omver gooi.Die dag is reeds uitgesit en om nou weer ander reelings te tref is belaglik.Dit sal baie ontmoedig om te gaan stem.Maar die ANC sirkus gaan onverpoos voort.Bring net jou eie springmielies en Coke.

Papsak ·

Nee kyk hulle probeer nou alles om hierdie verkiesing uit te stel of om vir tyd te speel maar druk deur ons stem met of sonder hulle klaar

Griesel ·

Die ANC-masjien sal enigiets doen om aan bewind te bly. En Zupta het gewys hoe dit gedoen word aangesien dit nog steeds werk.

Cassie Carstens ·

Die aprtye het gewag tot op die laaste minuut voordat hulle aansoeke ingedien het. Hulle moet maar oor 5 jaar weer probeer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.