Aantal dubbele stemme ‘weglaatbaar klein’

Argieffoto van ‘n bord in die OVK se nasionale uitslagsentrum in Pretoria wys die voorlopige uitslae soos data van die verskillende stemlokale inkom. (Foto: ANA)

Die statistikus-generaal het in sy finale verslag oor die pas afgelope nasionale verkiesing bevind die getal dubbele artikel 24A-stemme wat moontlik uitgebring is, was weglaatbaar klein. Artikel 24A-stemme verwys na kiesers wat ʼn vorm moes invul omdat hulle wou stem in ʼn ander distrik as die een waar hulle volgens die kiesersrol geregistreer is.

Daar was tydens die verkiesing verskeie bewerings deur mense dat hulle twee keer, of in sommige gevalle selfs meer as dit, kon stem. Minstens 24 mense is sedertdien in hegtenis geneem vir beweerde dubbelstemmery. Een van dié beskuldigdes is Etienne Mare, ʼn joernalis verbonde aan Suburb.News, wat in ʼn aanlyn video erken dat hy twee keer gestem het. Volgens Mare het hy sy tweede stembrief bederf. In die video wat hy op sosiale media gedeel het, voer Mare ʼn onderhoud met Malinda Halloway, ʼn kieser wat beweer het dat sy drie keer kon stem. Halloway is ook aangekla.

Maroela Media het vroeër berig 27 politieke partye het aanvanklik by die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) aangedring dat ʼn onafhanklike ouditeursfirma aangestel moet word om die uitslae te oudit, anders sal hulle die kieshof nader om die OVK te dwing om dit te doen. Die partye was ontevrede oor bewerings van onreëlmatighede tydens die verkiesing, onder meer oor beweerde voorvalle van intimidasie en veral dié oor meermalige stemmery.

Die EFF was een van dié partye en leier Julius Malema het die OVK gemaan om sy stelsels te verbeter voor die plaaslikeregeringsverkiesing in 2021. “Die OVK moet bo verdenking wees, want sy onvermoë en onbekwaamheid sal tot geweld en ʼn onwerkbare politieke omgewing lei.”

Ten spyte van die klagtes het die OVK volgehou hy gaan nie ʼn onafhanklike oudit van die uitslae laat doen nie.

Die OVK sê nou Statistiek SA se onafhanklike steekproef wat hy by 1 020 stemlokale gedoen het, was verteenwoordigend van die 22 925 stemdistrikte landwyd. Die getal kiesers wat by dié stemlokale gestem het, is vergelyk met vorige verkiesings se kieserdeelname-data. Hiervolgens is daar statisties bepaal tot watter mate voorvalle van meermalige stemmery die uitslae van die verkiesing kon beïnvloed het.

Die grootte van die steekproef is gekies om ʼn hoë vlak van betroubaarheid te verseker en daar was uiteindelik ʼn 3% kans op ʼn fout.

Die OVK sê hy is tevrede dat die gebruik van die stemme in ooreenstemming met vorige verkiesings was. Slegs ʼn klein getal stempunte in die steekproef het heelwat van die normale stempatroon afgewyk.

“Selfs in dié geïsoleerde gevalle, is die kommissie tevrede dat die neiging goed vergelyk met vorige stempatrone by stempunte met lae registrasievlakke,” het die OVK gesê.

Statistikus-generaal Risenga Maluleke se finale verslag is reeds aan al die partye wat aan die verkiesing deelgeneem het, beskikbaar gestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

wonder ·

Hoekom hulle aantal en toe sluit??? dan moet julle die hele Goverment aanklae en toesluit hulle is meer korip!!!!!!!!!!!!!!!!! Hulle verduister Miljoene???????? Hoe werk dit????

JohanL ·

Hm – wie betaal die Statistikus Generaal se salaris? Ja, so gedink.

En wat van die bewerings, wat volgens die mense wat dit maak feite is en nie net bewerings nie, oor sekere stemlokale waar die nasionale syfer vir ‘n betrokke party NUL was op die finale uitslagstaat, maar daar is mense wat wel vir die party gestem het? Dit dui tog op bedrog. En asb dit gaan nie oor ‘n sg “klein party” wat benadeel is nie – dit gaan oor die beginsel. Bedrog is gepleeg in ‘n proses wat die OVK reken integriteit het. Met hoeveel ander groter partye is die getalle verander en mens gaan dit moeilik optel.

Dit het ‘n impak of nasionale persentasie en hoeveelheid setels in parlement.

Dries du Toit ·

Om die mense wat die stelsel getoets het te arresteer is absoluut absurd. Die wat meer as 1 keer gestem het en stil gebly het sal weg kom. Daar is geen manier om te bewys wie het 2 keer gestem nie

Daniel Lötter ·

Verstommend dat hulle maar net nie tot die besef kan kom dat dit hoegenaamd nie handel oor die AANTAL dubbele stemme, die GETAL stembusse vol stembriewe wat vanoggend nog ontdek word, die totale GETAL klagtes oor teenstrydighede nie, maar oor die feit DAT daar sulke voorvalle was, DAT mense gearresteer moes word, DAT Deidre Carter van Cope by 5 stemlokale kon instap. Dit maak nie saak HOE verkeerd die OVK was nie, dit maak saak DAT die OVK verkeerd was en dit gooi ‘n skaduwee oor die Vryheid en regverdigheid van die verkiesing en dit sal ons bevraagteken in samewerking met 13 ander politieke partye totdat ons ‘n bevredigende antwoord kry.

JohanL ·

Daniel – jy is heeltemal reg. Maar duidelik kan die OVK dit nie verstaan nie. Dit gaan my verstand te bowe.

Skynbaar mag daar “bietjie knoeiery” wees – solank dit nie te veel is nie en solank dit nie die ANC benadeel nie.

Judge Dredd ·

Weglaatbaar klein ja – maar dit geld slegs vir die waarvan julle weet?

Hoeveel weet julle nie van?

Pieter ·

Kom nou mense verkeerd is verkeerd, dit maak dit nie nou reg of wettig omdat hulle op video gaan spog het dat hulle dit reggekry het. Dit bly verkeerd. As jy oneerlik was bv. in eksamen en jy gaan maak ‘n vidoe na die tyd om te sê hoe maklik jy dit reggekry het, en dat jy net die sisteem getoets het, en dan verwag jy daar gaan nie teen jou opgetree word nie. REGTIG! Dink mense dink voor julle sulke dinge doen.

Tanya ·

Ag asb julle laat alles toe in die land op hoeke gestem waar daar nie eers n stem lokaal is nie somer agter bakkie gestem dan word ons stemme weg gegooi kim by asb

Jerry ·

Dit strek baie verder as dubbele stemme. Dubbele stemme is n gerieflike afleier van die groter probleme soos die duisende bedorwe stembriewe en duisende stembriewe wat doodeenvoudig nie getel was nie.

Ellisras ·

Die aantal mense wat vermoor word as % van die bevolking is eintlik weglaatbaar klein.

Pampoen ·

Almal leef in ‘n gekke paradys. Wat van die houers met stembriewe wat orals opgetel is. Wie het voor die uitslae bekend gemaak is gekyk na die sogenaamde bedorwe brie we.

Vra maar net ·

Ek wonder ook of die moontlikheid kan bestaan dat stembriewe van sekere partye na die verkiesing deur persone, anders as die kieser, bedorwe kon word deur n pen te neem en aspris oor die lyne te krap.

Adam ·

Die glipsies is volgens hulle “weglaatbaar” en ek is van opinie die OVK is “ignoreerbaar”. Die land het oor ‘n periode van 25 jaar na ‘n toestand van morele bankrotskap beweeg teen die spoed van wit lig, met die ANC voor in die tou. Bid jou dit aan; Julius Malema wat die ANC openlik verag vir hulle korrupte optrede en dit in die openbaar op rekord plaas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.