ActionSA kap ook Bela-wet

(Argieffoto: Christel Cornelissen/Maroela Media)

ActionSA het sy beswaar teen die omstrede Bela-wet by die parlement ingedien en sê dit is ʼn “defektiewe wetgewende poging” om die strukturele tekortkominge van die land se onderwysstelsel, wat spruit uit jarelange wanbestuur, te verdoesel.

Angela Sobey, ʼn lid van ActionSA se senaat, sê gehalteonderwys is een van die grondbeginsels van die party en dat die wetsontwerp versuim om die bestaande probleme in die onderwyssektor fundamenteel reg te stel. Die wetsontwerp is onsamehangend en weerspieël nie die werklike behoeftes en realiteite van die onderwyslandskap nie.

“Gehalteonderwys bly een van die maniere om iemand in staat te stel om hul lewe te verbeter, maar die Bela-wet gaan na alle waarskynlikheid nie daardie doelwit bereik nie,” sê Sobey.

Die bedoelings daarvan is bes moontlik edel, maar die wetsontwerp is uiteindelik ʼn “magsgryp” deur die minister van basiese onderwys wat onder meer die mag gaan kry om ʼn skool se taalbeleid te bepaal, ongeag wat die skool se beheerliggaam besluit. Sobey sê dit gaan ook ouers se vermoë om te besluit oor tuisonderrig, aan bande lê.

Nog een van die bronne van kommer is verpligte gr. R vir alle leerders, maar sonder ʼn duidelike begrip van wat die leerplan daarvoor sal behels, of hoe dit bekostig gaan word.

ActionSA is ook gekant teen ʼn voorstel om ʼn breë verbod oor die verkoop van alkohol by skole, soos in die wetsontwerp vervat, op te hef. Sobey sê die party verwelkom die uitbreiding van boetes wat opgelê kan word aan diegene wat skole ontwrig, maar dat die reg op ʼn vreedsame betoging steeds beskerm moet word.

“Ons is vasbeslote in ons verbintenis om Suid-Afrika se mislukkende onderwysstelsel te herstel. Dit is ʼn stelsel waar 80% van openbare skole as wanfunksioneel beskou word, waar agt uit tien Suid-Afrikaanse skoolkinders sukkel om teen die ouderdom van tien met begrip te lees, en 40% van gr. 11-leerders uitval. Ons glo ʼn omvattende en chirurgiese benadering is nodig om hierdie diepgewortelde probleme in die stelsel op te los.”

Die party sê die beginpunt hiervoor is om van die regerende ANC by die stembus ontslae te raak en die wurggreep van sommige vakbonde te breek.

ActionSA stel ook voor dat skoolinspekteurs weer ingestel word wat onafhanklik kan verseker dat gehalteonderrig gebied word. Onderwysersopleiding en -steun moet verbeter word, veral by sentrums vir vroeë kinderontwikkeling en hervorming moet ingestel word sodat leerders teen gr. 4 behoorlik kan lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hendrik ·

Die belangrikste is nie taalbelyd nie. Wat verwag u van n sosiolisties kommunistiese regering in beheer. Met onderdrukking van ouer, gemeenskapsbeheer. Jou kind word staatseiendom. Hul bepaal wie is die omderwyser met vreemde kultuur. Die kirukulum sal inhoudelik sosiolisties, kommunisties gedrewe wees. Ons kinders sal totaal vervreemd raak

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.