Soorte resepte:

Agt nuwe Starbucks-takke vir SA    

Foto: Facebook

Starbucks maak in die volgende vier weke agt nuwe takke in die land oop.

Die eerste nuwe tak maak op 19 November in Canal Walk in Kaapstad oop. Daar kom ook nog vyf takke in Kaapstad – in die Cavendish Square-winkelsentrum, in die Tygervallei-winkelsentrum, in die V&A Waterfront, in Stellenbosch en in Kampsbaai.

In Pretoria kom daar ʼn Starbucks-tak in die nuwe Castle Gate-winkelsentrum wat einde van die maand oopmaak. In Johannesburg maak ʼn nuwe tak in Rosebank oop.

Adrian Maizey, eienaar en uitvoerende hoof van Rand Capital Coffee, die maatskappy wat Starbucks in Suid-Afrika besit, is opgewonde oor dié belegging en die werksgeleenthede wat dit in dié moeilike ekonomiese tye tot gevolg gaan hê.

Die nuwe takke skep werk vir ʼn bykomende 69 heeltydse werknemers en die bevordering van 21 werknemers. Dit sal Starbucks se aantal permanente werknemers in Suid-Afrika op 300 te staan bring.

“Starbucks is ʼn ikoniese, wêreldwye handelsmerk en toe die geleentheid hom voordoen om dit na my tuisland uit te brei, het ek die geleentheid aangegryp,” sê Maizey. Hy voeg by dat Starbucks volgens ʼn lisensiëringsmodel werk in teenstelling met die franchise-model.

Volgens Maizey is hul uitdaging as nuweling in die toenemend kieskeurige koffiemark om die publiek beter in te lig oor alles wat Starbucks bied. “Ons het iets vir byna almal – en deur die handelsmerkaanbod, etos en kultuur te deel, weet ons dat hierdie mark dit sal verstaan, dit sal geniet en dit sal aanvaar.”

Starbucks is in 1971 met ʼn enkele winkel in Seattle in die VSA begin. Daar is tans meer as 30 000 takke wêreldwyd.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Mad Mike die Rhodesiër ·

Interessant! Ek het nie eens geweet Starbucks is in Suid-Afrika! Tog moet ek sê dat nie almal van hierdie ekstra sterk moerkoffie hou nie – ek ingesluit!

Louise ·

Ek hoop hulle het goeie marknavorsing gedoen. Hulle moet versigtig wees. Dunkin Donuts was ‘n reuse flop met groot verliese in SA. Doughnuts eet vir brekfis is nie tradisie in SA nie. SA se smaak is nie Amerika s’n nie. Maar kom ons hoop vir die beste :) Dalk is dit anders met koffie.

Nefie ·

Ek het nie ‘n probleem met Starbucks nie, hulle het goeie diens en bestel sisteem. Maar tog sal ek verkies om die kleiner koffiewinkel naby my te ondersteun sodat minder geld uit die land vloei. En die koffie is niks beter as die koffie plekkie om die hoek nie.

Dup ·

Na jare van kitskoffie het ek eendag ñ koppie “regte” filterkoffie te drink gekry.Nog nooit weer iets anders gedrink nie.Sommige koffiewinkels te duur vir my so ek maal en maak my eie brousel.n Goeie koppie boeretroos met beskuit in die oggend verrig wondere.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.