AKA-moord: Eswatini wag nog op SA se uitleweringsaansoek

Kiernan “AKA” Forbes en die sjef en sakeman Tebello “Tibz” Motsoane is op
10 Februarie verlede jaar buite ʼn bekende restaurant in Durban doodgeskiet. (Foto: Instagram)

Twee broers wat verlede maand in Eswatini in hegtenis geneem is vir hul beweerde aandeel in die moord op Kiernan “AKA” Forbes en Tebello “Tibz” Motsoane, kan steeds nie aan Suid-Afrika uitgelewer word om hier tereg te staan vir die moorde nie.

Dit omdat die owerhede in Eswatini nog nie ʼn aansoek van hul Suid-Afrikaanse eweknieë ontvang het nie.

Siyabonga en Malusi Ndimande het Dinsdag weer in ʼn hof in Manzini verskyn voordat die saak tot volgende week uitgestel is.

Die twee broers word saam met vyf ander, onder wie nog twee van hul broers, van die opspraakwekkende moord op Forbes en Motsoane ʼn jaar gelede beskuldig.

Hul vyf medebeskuldigdes het al verskeie kere in die Durbanse landdroshof verskyn in verband met die moorde.

Die sewe mans het egter sedert hul onderskeie inhegtenisnemings einde verlede maand nog nie almal saam in een beskuldigdebank ingeskuif nie.

Maroela Media het vroeër berig Forbes (35) en Motsoane (34) is op 10 Februarie verlede jaar in Floridaweg in Morningside, Durban, doodgeskiet kort nadat hulle aandete by die Wish-restaurant geëet het.

Forbes is voor sy dood van die Durbanse lughawe tot by sy hotel in Umhlanga en daarna tot by Wish gevolg waar hy en Motsoane doodgeskiet is.

Twee gewapende verdagtes het die betrokke aand die straat oorgesteek en Forbes en Motsoane van naby geskiet voordat hulle weggehardloop het. Forbes en Motsoane is albei op die toneel dood verklaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Cassie Carstens ·

My vraag is: Waarom werk Dirco nie? Hulle lyk vir my soos ‘n klomp sitbokke wat op hulle hande sit en reuse salarisse trek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.