Barmhartige konstabel bring hoop vir Kraaifontein  

Konst. Kwayo Louw, stigter van Kraailove. (Foto: Eunice Sctoltz)

Kwayo Louw wou nog altyd ʼn verskil maak – dié dat hy by die polisie aangesluit het.

Dié 24-jarige konstabel van die Wes-Kaapse Blitspatrolie in Maitland het die afgelope week die nuus gehaal nadat hy vyf gesinne in Kraaifontein, Kaapstad, op sy eie onkoste van broodnodige kospakkies voorsien het. Die LUR vir Gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, Albert Fritz, het Louw Donderdag spesiaal bedank vir sy voorbeeld as polisiebeampte.

“Baie mense gaan verder as hulle plig om die kwesbares te help, soos konstabel Louw,” het Fritz in ‘n verklaring gesê.

Maar dié vyf gesinne aan wie Louw onlangs hulp verleen het, is ʼn handjievol van die vele mense in Kraaifontein wat sy barmhartigheid amper daagliks ervaar. Louw was nog altyd ʼn baken van hoop in dié gemeenskap, vertel lede van die gemeenskap aan Maroela Media.

Louw het grootgeword in Kraaifontein en is sedert ʼn jong ouderdom blootgestel aan die kenmerkende eienskappe van dié noordelike voorstad van Kaapstad: armoede, werkloosheid en bendegeweld.

“Dis laaities wat saam met jou grootgeword het wat met mekaar baklei. Ek kyk nou die dag na ʼn ou rugbyfoto. Ons was soos broers gewees, maar vandag skiet ons mekaar en ons maak mekaar dood. Dissie nice nie. En die drugs mors die mense op hier buitekant. Dit is baie sad, regtig,” vertel Louw.

Dit is juis sy skooljare in Parkdene Primêr en Scottsdene Sekondêr wat hom aanspoor om ʼn verskil te probeer maak.

“Ek het nog altyd gevoel ek wil ʼn verandering in die gemeenskap maak, maar ek het nooit geweet hoe nie.” Een van die redes waarom hy by die polisie aangesluit het, is om juis dít te doen.

Kraailove gee kos aan inwoners in Kraaifontein (Foto: Verskaf)

Louw was vanaf graad 11 in die gemeenskap betrokke gewees. In 2015 het hy ʼn Facebook-blad gestig met die naam Kraailove. “Dit was soos ‘Kraaifontein-liefde’,’’ verduidelik Louw die naam.

Die Kraailove-bladsy het met 20 aanhangers begin en het intussen tot meer as 30 000 aanhangers gegroei. Dit is onder meer op dié groep waar Louw en sy span van sewe vrywilligers mense wat in nood is in die gemeenskap identifiseer.

Weens die huidige Covid-19-inperkingsregulasies word hulle gemeenskapswerk beperk tot drie gebiede binne Kraaifontein. Gabriel Court is een woongebied wat deur Kraailove versorg word.

Louw sê: “Bejaardes hier kan nie sê hulle het honger gaan slaap nie. Die mense kom na Kraailove, want hulle weet hulle gaan gehelp word.”

Patricia Cupido, ʼn inwoner van Gabriel Court, beaam dit.

“Kraailove sorg vir ons hierso.”

ʼn Kraailove-vrywilliger, Margaret van der Heever, voorsien kos aan inwoners enkele kilometers weg van Gabriel Court. “Hy (Louw) buig agteroor. Hy sal enigiets doen vir die gemeenskap,” sê sy.

Louw tref ook nie onderskeid oor wie hy help nie.

“Ek gaan uit my pad om te sorg dat jy kos kry, al is jy op drugs. Ek kan nie sê, ‘nee, ek gaan nie vir jou kos gee nie’, maar ek het ook nie ʼn manier om jou uit die drugs te help nie.”

Vrywilligers van Kraailove. v.l.n.r. Izak Steyn, Lorreine Carelse, Monzellee Manuel, Margaret van der Heever, Kwayo Louw. (Foto: Eunice Stoltz)

Buiten die voedselskemas is Louw besig met ʼn projek waar hy help om sanitêre produkte aan vroue te voorsien. Hy reël ook etes vir bejaardes – wat weens die landwye afsondering uitgestel moes word – en sien uit daarna om moontlik ʼn nuwe inisiatief te begin wat werkloosheid in die gemeenskap gaan aanpak.

“Soms raak dit moeilik omdat ons die meeste van die goed uit ons eie sakke doen.”

Maar Louw sê sy slagspreuk in die lewe was nog altyd: “God sal voorsien. Al weet ek nie daai spesifieke tyd hoe ek gaan maak of wat ek gaan maak nie, ek glo God gaan voorsien.”

Besoek Kraailove se Facebook-blad en gebruik die WhatsApp-skakel om met hulle kontak te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

capie ·

Baie goed dat ons na ons medemense omsien. Trots op julle Kwayo en jou helpers. Wat ek egter nie kan verstaan nie, is al die polisie manne weet WIE die drug dealers is. Weet watter skade hulle aan die gemeenskap doen. Hoekom word niks gedoen nie.

Fedup ·

If i had a hat, i would have taken it off for you. A kind human. Really refreshing news.

Jan GL ·

Konstabel Louw is die Diens in die woord Suid Afikaanse Polisie DIENS. Servamus et Servimus by uitstek. Dankie vir Polisiemense soos jy. Dit gee my vertroue terug in die SAPD. Saluut

Sarel ·

In ‘n land en ‘n werekd waar Polisie altyd gekritiseer word moet hierdie mensecetkenning gegee word. Ek sien egter maar min kommentare want mense lewer nie ko.mentaar op Goeie nuus nie. Mag julle geseen word

Jaco ·

mag hy dit doen? is die ras van die mense vir wie hy die kos gee darem “reg”? Daar is deesdae soveel reels, ook rasgebaseerde reels, met kos vir mense gee dat ek dit glad nie meer doen nie. Ek wil nie van rassisme aangekla word nie. Om kos vir sekere “minderheidsrasse”te gee is blykbaar ‘n oortreding en ‘n vorm van rassisme.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.