Begrafnisse in Limpopo ‘superverspreiders van virus’

(Argieffoto: Oupa Mokoena/ANA)

Begrafnisse in Limpopo word steeds deur groot getalle mense bygewoon, ten spyte van ʼn skerp toename in Covid-19-gevalle in die provinsie.

Dr. Phophi Ramathuba, LUR vir gesondheid in Limpopo, het Vrydag gesê die provinsie het ʼn rekordgetal van 1 644 nuwe positiewe gevalle oor die afgelope 24 uur aangemeld.

Die meeste van hierdie gevalle was in die Capricorn-distrik. Pres. Cyril Ramaphosa het die Capricorn- en Waterberg-distrik in Limpopo verlede week al tot koronavirusbrandpunte verklaar.

Die Vhembe-distrik, wat vir ʼn lang tyd die streek met die minste Covid-19-gevalle was, is nou verantwoordelik vir heelwat van die provinsie se nuwe gevalle. Altesaam 493 nuwe positiewe gevalle is daar bevestig, net minder as die gevalle in Capricorn.

Die Makhado- en Thulamela-munisipaliteit in die verre noorde van die provinsie is brandpunte in die Vhembe-distrik en 211 en 205 gevalle onderskeidelik is daar bevestig.

“Met die toename in die getal begrafnisse wat gehou word, hanteer mense begrafnisse steeds soos gewoonlik,” het Ramathuba gesê.

“Hulle besoek steeds bedroefde familielede en woon begrafnisse in groot getalle by. Ons sien nou dat begrafnisse die plek vir superverspreiding word. Ons doen ʼn beroep op mense om die gebruik te staak.”

Ingevolge die vlak 3-afsonderingsregulasies mag net 50 mense ʼn begrafnis bywoon en die begrafnis mag ook nie langer as twee uur lank duur nie. Die oorledene moet ook binne vyf dae begrawe word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.