Begrawe van doodgebore babas is wettig – Konstitusionele Hof

(Argieffoto: pixabay)

Die Konstitusionele Hof het bekragtig dat die Wet op Geboortes en Sterftes nie ongrondwetlik is nie en ook nie van toepassing is op miskrame nie – wat beteken die manier hoe die wetgewing tot dusver toegepas is om die begrafnis of verassing van ongebore babas ná afloop van miskrame te verbied, nie korrek is nie.

Renaldi Ingrim-Barnard, die organisasie Voice of the Unborn Baby se regsverteenwoordiger, sê wetgewing verbied dus nie sulke verassings of begrafnisse nie.

Die hof het bevind die wet is dus nie ongrondwetlik nie, maar dat ʼn begrafnis of verassing van ʼn ongebore baba ingevolge munisipale wetgewing gereguleer word.

“Hoewel die uitspraak nie die Wet op Geboortes en Sterftes ongrondwetlik verklaar het nie, is die uitkoms wel in ons guns. Die hof het duidelikheid gegee in sy uitspraak en ons het nou sekerheid dat daar geen verbod in die Wet op Geboortes en Sterftes is op die begrafnis of verassing van ongebore babas ná afloop van ’n miskraam nie,” sê Ingrim-Barnard.

“Ons is oortuig daarvan dat hierdie uitspraak ʼn enorme verskil gaan maak in die lewe van voornemende ouers wat hul ongebore baba verloor voor 26 weke ná verwekking.”

Een van die grootste kwessies waaroor die land se hoogste hof moes besluit, was of alle ouers die reg het om die oorskot van hul kinders wat sterf voordat hulle gebore word, te begrawe. Die hof moes ook die grondwetlike waarde of waardigheid van ʼn ongebore mens se lewe oorweeg – en wat dit beteken vir die manier waarop die oorskot van hierdie babas hanteer word.

Die grondwetlikheid van die Wet op Geboortes en Sterftes en sekere gesondheidsbepalings is in die hof betwis omdat hospitale die wetgewing op so ʼn manier interpreteer dat die ouers van babas wat voor 26 weke ná verwekking sterf, verhoed word om die kind se oorskot volgens hul keuse te begrawe.

Die aansoekers het die hof gevra om te verklaar dat alle ouers daarop geregtig is om hul babas se oorskot vir ʼn begrafnis te ontvang.

Die hof het bevind die wet reguleer die begrafnis van ʼn “lyk” en ʼn lyk word gedefinieer as “enige menslike liggaam wat gesterwe het, insluitend die liggaam van enige doodgebore kind”. Doodgebore word gedefinieer as enige kind wat minstens 26 weke in die baarmoeder bestaan het, maar geen teken van lewe ná ʼn volledige geboorte getoon het nie.

Die hof het ook bevind die wet verhoed nie die begrafnis van die oorskot van ʼn kind wat voor 26 weke in die baarmoeder sterf nie. Daar is dus niks in die wetgewing wat ouers verhoed om ʼn ontydig of vroeggestorwe baba te begrawe nie.

Volgens die hof handel die wetgewing net met die wetlike vereistes wat geld wanneer ʼn “menslike liggaam wat gesterwe het” begrawe word – wat die oorskot van ʼn baba wat voor 26 weke in die baarmoeder sterf nie is nie.

“Die regsgevolg oor die menslike oorskot van babas wat in die eerste 26 weke in die baarmoeder sterf, verskil van die regsgevolge wat spruit uit die dood van alle ander mense, insluitend babas wat sterf ná 26 weke in die baarmoeder en mense wat ná ʼn normale geboorte sterf,” sê Ryan Smit, uitvoerende direkteur van die menseregtegroep Cause for Justice (CFJ) wat ook by die hofsaak betrokke was.

Oor ouers se reg om babas wat in die eerste 26 weke sterf te begrawe, het die Konstitusionele Hof bevind hy kan nie dié reg vir ouers bevestig nie. Volgens die hof was daar nie voldoende getuienis om te bepaal of hospitale en ander gesondheidsorgverskaffers die nodige hulpbronne kan toewys om die regte van ouers ʼn werklikheid te maak nie.

Smit sê die hof het bevind die reg hang af van of daar genoeg finansiële hulpbronne is om gesondheidsorginstellings in staat te stel om ouers toe te laat om hul baba te begrawe. Die wetgewing verhoed egter nie só ʼn begrafnis nie.

“Ouers word gelaat met geen duidelike reg om op te steun as hulle hul ontydig gestorwe kind wil begrawe nie. As ʼn hospitaal (soos tot dusver die norm en werklikheid was) ouers die menslike oorskot van hul baba ontneem, sal hulle op ʼn manier moet betaal of litigeer teen die hospitaal om te verhoed dat hul baba se oorskot as mediese afval verbrand word en om die baba se oorskot te bekom om ʼn begrafnis van hul keuse te hou,” sê Smit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Frank John ·

Die oomblik dat daar kind geplant is in ‘n vrou se baarmoeder en sy daarvan bewus is is dit mens. Om dit doelbewus uit te wis sê ek dis moord.
Net soos die babas in Moses se tyd en Jesus se tyd net vroeër.

VaalDonkie ·

Ses jaar gelede het hulle geweier om my seuntjie vir my te gee want hy was “mediese afval”.

Nettie ·

Ek is baie jammer om dit te hoor, VaalDonkie. Dis so verskriklik hartseer.

Swerwer ·

Dit is elke ouer se reg om ‘n ongebore baba, ongeag die tydperk na verwekking, op hul manier te begrawe. Geen fetus is “mediese afval” nie. Hoe moet die ouers van daardie fetus emosionele berusting vind as hul nie die fetus mag begrawe of veras nie.

marius ·

Goed so . Vertel dit vir die sogenaamde leier van Amerika en sy kornuite .

Nettie ·

Van dag 1 af was ons ongebore babas vir ons mensies wat klaar deel was van ons gesin. Hulle het byname gekry, ons het elke dag met en oor hulle gepraat, hulle in ag geneem in toekomsplanne, en ons wereld het om elkeen gedraai vanaf daardie dag. Wat ons eet, waaraan die mamma deelneem en waarvoor om versigtig te wees. Geld was eenkant gesit vir die mensie, ‘n kamer word beplan en drome gedroom. Om so ‘n lid van die familie te verloor, moet getreur en geween word, op ‘n manier wat die familie goedvind. Nie wat ‘n hospitaal besluit nie. Dit het niks met enige iemand anders as die familie te doen nie.

Begrafplase, kerke, begrafnisondernemers en hospitale kan gerus saamwerk om opsies vir sulke mammas te bied. ‘n Maklike, vinnige verassingsdiens of begrafnis wat goedkoper en kleiner en minder koste behels as ‘n volledige begrafnis. Maar iets wat kan troos en help. Ondersteun die ouers. Bied vir hulle ‘n relatiewe goedkoop en maklike alternatief, wat die lyfie met “dignity” sal behandel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.