Bejaarde beseer toe hek op hom val

Paramedici behandel die man in sy oprit. (Foto: Marshall Security)

’n Gemotoriseerde oprithek het Woensdag op ’n bejaarde man van La Lucia, Durban, geval terwyl hy besig was om dié hek se motor te herstel.

Die 82-jarige man het glo sy balans verloor voordat die hek bo-op hom in sy oprit beland het.

Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, sê paramedici is vanoggend net voor 11:00 na die bejaarde se huis ontbied. Veiligheidsbeamptes van Marshall Security het in dié stadium reeds op die toneel aangekom en kon die man van onder die hek bevry en noodhulp op hom toepas.

Andreas Mathios, woordvoerder van Marshall Security, sê die man was by die beamptes se aankoms onder die staalhek vasgepen.

Paramedici het die man ondersoek en bevind dat hy matige beserings in die voorval opgedoen het. Hy is op die toneel gestabiliseer voordat hy per ambulans na ’n nabygeleë hospitaal vervoer is vir verdere mediese behandeling.

Paramedici behandel die man in sy oprit. (Foto: Netcare 911)

Die hek wat op die man by sy huis geval het. (Foto: Netcare 911)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.