Bejaarde dood ná kajakongeluk

(Argieffoto: NSRI)

’n 70-jarige man is dood nadat sy kajak Saterdag deur die waterstrome van die Mzimkhulu-riviermond in Port Shepstone na die see meegesleur is. Die man en sy vrou was jare lank aktiewe NSRI-ondersteuners.

Volgens ooggetuies het die kajak in die water omgeslaan.

Gary Wolmarans, stasiebevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Shelly Beach, sê reddingslede is omstreeks 11:06 in kennis gestel van die man se ongeluk. Die NSRI-reddingsvoertuig, die polisie se soek-en-reddingseenheid en Med-Evac-ambulansdienste is na die toneel ontbied.

“Met reddingspanne se aankoms op die toneel het ’n see- en kuslynsoektog na die man begin. Die kajak is uitgespoel op die kuslyn aangetref,” sê Wolmarans.

“Tydens ’n seesoektog is die liggaam van die man in die branderlyn gevind. Paramedici het hom op die toneel dood verklaar.”

Die liggaam van die man is in die sorg van die staat se forensiese patologiedienste geneem om ’n nadoodse ondersoek uit te voer.

Die polisie het ’n geregtelike doodsondersoekdossier geopen.

Die polisie en die NSRI het beraders vir die familie gereël en hul meegevoel aan die oorledene se familie en vriende oorgedra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.