Bejaarde GPF-lid vermoor

(Foto: David von Diemar/Unsplash)

ʼn 83-jarige lid van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in Limpopo is Donderdag vroegoggend vermoor. Hy was glo op pad terug van ʼn patrollie toe hy deur ʼn lid van sy familie oorval en aangeval is.

Die voorval het in die Shamfana-nedersetting in die noorde van Limpopo plaasgevind.

Volgens inligting wat deur die polisie verskaf is, het die polisie die slagoffer met veelvoudige steekwonde op die toneel aangetref. Hy is op die toneel dood verklaar.

“Die polisie het voorlopig ondersoek gedoen en alle vingers het na twee nabye familielede van die slagoffer gewys. Die twee is gou in hegtenis geneem en verskeie van die slagoffer se besittings is teruggevind,” het kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder van Limpopo, gesê.

Die twee verdagtes is onderskeidelik van moord en regsverydeling aangekla en sal albei Dinsdag in die Giyani-landdroshof verskyn.

Die polisie het die slagoffer as ʼn “brawe en eerbare lid van die GPF” beskryf en hul medelye met sy vriende en familie betuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.