Bejaarde probeer aanvallers met slang verdryf

Die aanvallers het die slang doodgemaak (Foto: Verskaf(

Waarskuwing: Die foto’s in die berig is grafies van aard en kan sensitiewe lesers ontstel.

Die 75-jarige Mauritz van den Heever het ’n slang op drie aanvallers gegooi in die hoop om hulle van sy kleinhoewe in Kameeldrift-Wes, Pretoria, te verdryf.

Van den Heever is Dinsdag net voor middernag buite sy huis deur die aanvallers oorrompel. Die aanvallers was met ’n 9 mm-vuurwapen gewapen.

Volgens Nico van Vuuren, voorsitter van die Hercules-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) wat na die toneel ontbied is, het Van den Heever uit die huis gegaan om die honde kos te gee.

“Toe hy by die kombuisdeur uit is, staan die skelms reeds daar en wag hom in,” sê Van Vuuren.

Volgens Van Vuuren het Van den Heever drie aanvallers gesien, maar daar is ’n vermoede dat daar dalk ’n vierde aanvaller was.

Die aanvallers het Van den Heever oorrompel, waarna hy hulle met ’n slang gegooi het. Van den Heever is ’n slangvanger en rehabiliteer slange voordat hy hulle in die natuur vrylaat.

“Die aanvallers het die slang doodgemaak en daarna Van den Heever erg begin aanrand en vasgebind.”

Van den Heever is erg aangerand (Foto: Verskaf)

Van den Heever is onder meer met die vuurwapen in die gesig geslaan.

“Die aanvallers het daarna die huis geplunder. Daar is nie ’n plek in daardie huis waar hulle nie was nie.”

Die aanvallers het al die gesteelde goedere in Van den Heever se Colt-bakkie gelaai, maar kon nie die bakkie aan die gang kry nie.

“Hulle het toe gebel vir ander vervoer, wat ná ’n ruk opgedaag het. Hulle het die gesteelde goedere in dié motor ingelaai en gevlug.”

Dit is nie duidelik watter motor as wegkommotor gebruik is nie.

Van den Heever se vrou het tussen 06:00 en 07:00 na hom kom soek en toe erg beseer en vasgemaak op die grond aangetref.

“Van den Heever se vrou het hom in die motor gelaai en hospitaal toe gejaag. Hy is sedertdien ontslaan.”

Volgens Van Vuuren is nog niemand in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Dit is die tweede aanval in ’n week in Kameeldrift-Wes – die ander een is sowat 2 km van Van den Heever se kleinhoewe af uitgevoer.

“Net ’n paar dae tevore is ’n man dood nadat hy op ’n kleinhoewe geskiet is. Die man se werkgewer het hom hospitaal toe gehaas, maar die man het aan sy beserings beswyk.”

Volgens Van Vuuren moet inwoners van Kameeldrift-Wes paraatheid handhaaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Delia ·

Ai Oom, ek is so jammer dat Oom so verniel is. Ek het nie woorde

Miena ·

Spoedige herstel vir oom.
As medeslanghanteerder is dit hartseer dat die slang doodgemaak is. n.a.v. die foto van die slang blyk dit n molslang te wees en nie n giftige slang (kobra) nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.