ʼn Man is Vrydagoggend in Kimberley deur ʼn bejaarde inwoner tydens ʼn huisroof doodgeskiet.
Kapt. Sergio Kock, provinsiale polisiewoordvoerder van die Noord-Kaap, het aan Maroela Media gesê ʼn onbekende gewapende man het ʼn bejaarde egpaar omstreeks 05:00 in hul huis in Carters Glen oorval.
“Die verdagte het hulle met ʼn vuurwapen gedreig en gedwing om met hul gesigte na onder op die vloer te lê waarna hy hul hande agter hul rûe vasgebind het,” het Kock gesê.
“Terwyl die verdagte die huis geplunder het, kon die man daarin slaag om homself los te kry. Hy het sy persoonlike vuurwapen beetgekry en die verdagte noodlottig gewond.”
Die verdagte is in die huis dood.
Sover vasgestel kan word, is die egpaar ongedeerd maar getraumatiseerd.
Die polisie ondersoek ʼn saak van huisroof en doen ʼn geregtelike doodsondersoek.
Dink net dat iemand sy gemors moes gaan skoonmaak. Jiggie!!