Bela is ‘poging tot kulturele etniese suiwering’

(Argieffoto: Shutterstock)

Dat agt van die land se nege provinsiale wetgewers vandag die groen lig aan die Wetsontwerp op Basiese Onderwyswette (beter bekend as die Bela-wetsontwerp) gegee het, is geen verrassing vir AfriForum nie. Die gewysigde weergawe wat goedgekeur is, word egter steeds deur AfriForum as ’n poging tot kulturele etniese suiwering deur die ANC-regering beskou, aangesien dit die vernietiging van ’n taal- en kultuurgemeenskap se skole sal moontlik maak, om sodoende die groep se kulturele voorbestaan in gedrang te bring.

“Solank provinsiale onderwyshoofde die finale besluite oor skole se taal- en toelatingsbeleid kan neem, is die deur oop om enkelmedium Afrikaanse skole na dubbel- of parallelmedium skole te verander. Dat oorlegpleging daaroor met skole se beheerliggame moet geskied, is betekenisloos,” sê Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake.

Oorlegpleging oor die Bela-wetsontwerp het sedert 2017 geskied en die publiek het hulle teenstand teen aspekte van die wetsontwerp telkens duidelik gemaak. “Tog is die omstrede kwessies steeds deel van die wetsontwerp, wat bewys dat oorlegpleging dikwels slegs ’n stap is wat afgehandel moet word, voordat die ANC-regering maak wat hulle wil.”

Bailey verwys na gebeure in die verlede waar provinsiale amptenare alles moontlik gedoen het om enkelmedium Afrikaanse skole se taalbeleid só te verander: “Telkens was langdurige, duur regsprosesse nodig om te bewys dat die departement verkeerd is en Afrikaanse kinders ’n reg op enkelmedium moedertaalonderwysinstellings het. Dit het gewoonlik met onrus in die gemeenskap en gepaardgaande spanning en trauma vir onderwyspersoneel, ouers en kinders gepaard gegaan. AfriForum meen Bela is ’n poging om toekomstige regsprosesse te omseil.”

Sy beklemtoon dat plaaslike en internasionale navorsing en praktiese voorbeelde al herhaaldelik bewys het dat dubbel- en parallelmediumskole oplaas enkelmediumskole in die sterkste taal word. Dit beteken dat skole wat beide Afrikaanse en Engelse onderrig aanbied, uiteindelik slegs Engelse onderrig sal gee.

“Afrikaans is op soortgelyke wyse reeds in al die land se openbare universiteite en verskeie Afrikaanse skole afgetakel. Die oorblywende Afrikaanse skole is nou aan die beurt. AfriForum berei daarom vir beide nasionale en internasionale regsaksie voor om dit teen te staan, indien die wetsontwerp deur die president onderteken sou word en na implementering oorgegaan word.”

Die publiek kan hulle mandaat vir AfriForum se regsaksie by www.stopbela.co.za gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

annie ·

Oppas om nie die verkeerde mense meer idees te gee oor wat hul nog kan doen nie… Woorde soos etniese suiwering moet nie lukraak gebruik word nie.

Theuns ·

Hoe anders? Kruip is kruip is oorgawe… majority rule is NIE demolrasie nie . Hou op praat van 94 demokratiese verkiesing. Dit was oorgawe aan majority rule. Alles gaan sneuwel na laer standaard

Michael ·

Die anc gebruik sy meerderheid en doen net wat hy wil,nog iets waarvoor de klerk en meyer bedank moet word.

George ·

Dink nie afriforum weet helemal wat “etniese suiwering” is nie.

Wakkerslaper ·

Ja nê…so pluk ons nou maar die vele vrot vrugte van “ja” stem om met kommunistiese terroriste te wou onderhandel.

melaney ·

Die Afrikaner sal dringend ‘n streep moet trek. Vroeër as later. Inteendeel, daardie streep moes al lankal getrek gewees het.

Manie ·

@George, hulle praat nie oor etniese suiwering (uitwissing van mense) nie, maar oor kulturele etniese suiwering waar ‘n betrokke etniese groep se kultuur uitgewis gaan word. Daar is ‘n groot verskil.

Nerina ·

Ons sê dankie vir die hope wat nie gaan stem wanneer hy geleentheid het om sy sê te sê nie! Mense as jy verandering wil sien, stem teen die ANC! Elke stem maak ‘n verskil! Al hou jy nie heeltemal van die party waarvoor jy stem nie, sorg dat dit een van die groter partye is wat wel ‘n sitplek in die parlement het! Vergeet van die verlede! ONS KAN NIE TERUG GAAN EN DIT VERANDER NIE!

gatgogga ·

Geen probleem nie. Slaan net een van de klerk se wigte of teenwigte in.

trotsNAMSA ·

BELA kan nie die Afrikaner kultuur vernietig nie tensy Afrikaners hul kultuur in hul Kerke, huise en buite die skool/universiteit beoefen nie. Kinders, ouers en ook onderwysers wat Afrikaans praat, kan gerus ook hul kennis verbreed deur die Afrikaner se geskiedenis te leer en oor te dra. Engels of enige ander taal op skole / universiteite is net vir onderrig, bekommer meer oor Afrikaans in jou omgewing, huis ensovoorts.
Ek het vir +-30 jaar Engels gepraat by my werk, maar daarna by die huis en Kerk is dit net Afrikaans.

Republikein in die Wes Kaap ·

Noem dit eerder kulturele vernietiging, diefstal, onderdrukking of iets dergliks.

domheks ·

Gelukkig is stemdag naby. hoop cANCer kry goeie pak by stembus.

annie ·

Daai storie van gaan stem tog maar net, is bog. So word verkeerde partye sterker en kry bose planne vlerke. Stem gerus twee keer, sommer ook vir my. Dit is so goed soos om maar net met iemand te trou om in ‘ n land burgerskap te kry. Buiten dat mens jou gewete verkrag sal jy maar gedweë moet ly onder die persoon se wense en gedrag. Die VF Plus haak nou lieflik uit en die DA ken Afrikaners net as dit geld of stemme soek… steeds Engels. En die ander partye?

Manie ·

As jy nie stem nie Annie, het jy geen sê nie, maak nie saak of daar na jou geluister word of nie, dit gaan oor die beginsel. As jy nie stem nie, moet dan ook nie kla nie, want jy het self jou stem ontneem.

Korrelkop ·

Wakker word, ou Wakkerslaap (sien kommentaar), as mense nie destyds “ja” gestem het nie, was jy jare gelede al onder die kluite tussen die lang bome…. 9:1…. gaan doen maar jou somme

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.