Beloning vir inligting oor Kouga-vandale

Nadat ʼn beskermingskabel gesteel is, het ʼn 11 kV-kabel en transformator die gees gegee, wat tot ure se donkerte en ongeveer R2 miljoen se skade gelei het.

Die Kouga-munisipaliteit wat dorpe soos Jeffreysbaai en Humansdorp bedien, is skynbaar raadop met vandale en het ʼn beloning van R10 000 uitgereik vir enige inligting wat sal help om hierdie oortreders vas te vat. ʼn Spesiale taakspan word ook saamgestel om die probleem te takel.

Die munisipaliteit het oor sewe maande nagenoeg R3 miljoen se skade aan kritiek belangrike infrastruktuur gely, wat alles spruit uit opsetlike dade van vandalisme.

Meer as 50 voorvalle is aangemeld, wat wissel van die vernietiging van oorhoofse lyne tot diefstal van elektriese kabels, wat plaaslike inwoners van basiese nutsdienste soos elektrisiteit ontneem.

Nadat ʼn beskermingskabel in die mees onlangse voorval in Humansdorp gesteel is, het ʼn 11 kV-kabel en transformator die gees gegee, wat tot ure se donkerte en ongeveer R2 miljoen se skade gelei het.

Volgens Hattingh Bornman, burgemeester van die Kouga-munisipaliteit, is daar meer as net finansiële gevolge wanneer munisipale infrastruktuur beskadig word.

“Dit beïnvloed die fundamentele struktuur van ons gemeenskappe, belemmer toegang tot noodsaaklike dienste en verlaag lewenskwaliteit, benewens die dringende munisipale diensleweringsprioriteit soos padherstel. Boonop hou dit ʼn risiko vir openbare veiligheid in”, het hy in ʼn verklaring gesê.

“Inwoners wat op hierdie dienste staatmaak vir hul daaglikse behoeftes, dra die swaarste weens sulke ontwrigtings, wat die erns van die kwessie onderstreep.”

Die dorp tree proaktief op in reaksie op hierdie styging in kriminele aktiwiteite.

Bornman sê die munisipaliteit is besig om ʼn interne taakspan saam te stel om saam met die plaaslike polisie te werk om streng maatreëls te tref en op te tree teen individue wat skade aan die stad se infrastruktuur aanrig.

Meer as 50 voorvalle is aangemeld, wat wissel van die vernietiging van oorhoofse lyne tot diefstal van elektriese kabels (Foto: verskaf)

ʼn Beloning van R10 000 is ook uitgeloof vir inligting wat lei tot die suksesvolle identifisering en vervolging van diegene wat verantwoordelik is vir die beskadiging van munisipale infrastruktuur.

Bornman moedig almal aan om saam te span om die woonbuurte te beskerm en onnodige skade aan lewensbelangrike infrastruktuur te voorkom.

Enigiemand met inligting wat verband hou met die skade aan munisipale infrastruktuur of wat verdagte aktiwiteite gesien het, kan dit aanmeld by Johnny Hayward by 081 322 7399 of by Adam Floors by 081 215 8713 – albei senior wetstoepassingsbeamptes van Kouga.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Tinus ·

Solank kriminele wegkom en nie verantwoording doen vir hul dade nie, sal hierdie vandalisme aanhou. Die howe vat ook te lank om die skuldiges te straf en as hulle jonger as sestien is, word hulle dadelik vrygelaat. Kriminele word mos deur die wet beskerm.

Karoo ·

Maak die skrootwerf handelaars toe en dit sal 100% afneem. Vraag en aanbod.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.