Beoogde wetsontwerpe bedreig handel met VSA – Sakeliga

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga.

Die sakeorganisasie Sakeliga het ʼn versoek aan pres. Cyril Ramaphosa gerig om die bekragtiging van twee wetsontwerpe wat tot 40% van Suid-Afrikaanse uitvoere na VSA in gedrang kan bring, uit te stel. Die betrokke wetsontwerpe is die Wysigingswetsontwerp op Kopiereg 2017 en die Wetsontwerp op die Beskerming van Uitvoerende Kunstenaars 2016.

Volgens Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, sal die wysigings op dié wette die Internasionale Intellektuele Eiendomsreg-Alliansie (IIPA) se vereistes oortree. Dit sal tot gevolg hê dat Suid-Afrika sy toegang tot die Amerikaanse Algemene Stelsel van Voorkeure (GSP) se belastingvrystellings, asook die Afrika Groei en Geleentheidswet (AGOA)-vrystellings verbeur.

Le Roux verduidelik dat dit negatiewe nagevolge op die plaaslike ekonomie kan hê, omdat Suid-Afrika tans, as deel van die AGOA- en GSP-ooreenkomste, van sy produkte sonder belasting en tariewe na die VSA kan uitvoer. Sou die wette van toepassing word, gaan die belastingvrystelling opgeskort word en sal plaaslike vervaardigers hul pryse moet opstoot, wat uitvoere sal laat daal.

Die hersiening van Suid-Afrika se toegang tot GSP-vrystellings kom nadat ʼn petisie deur die IIPA van stapel gestuur is om die twee wetsontwerpe tersyde te laat stel. Die petisie is reeds deur die Kantoor van die Handelsverteenwoordiger van die Verenigde State (USTR) aanvaar.

Le Roux verduidelik dat uit die $8 miljard se jaarlikse uitvoere van Suid-Afrika na die VSA in 2017, het $1,1 miljard (14%) voordeel getrek uit die GSP-vrystellings, terwyl $1,8 miljard (23%) uit AGOA-vrystelling voordeel getrek het.

“Aangesien soveel as 40% van uitvoere uit Suid-Afrika na die VSA die afgelope jare voordeel getrek het uit GSP- en AGOA-vrystellings, is dit uiters belangrik dat die implikasies van dié wetsontwerpe versigtig oorweeg word. Alle aanduidings wys nou daarop dat dit wet gaan word,” sê hy.

Sakeliga het ook ʼn versoek tot die president gerig om die wetsontwerpe vir konstitusionele hersiening na die Nasionale Vergadering terug te verwys.

“Die wette, soos wat hulle tans staan, bied nie die voldoende beskerming vir Amerikaanse kopiereghouers nie, en dus het die IIPA die petisie vir ʼn hersiening van stapel gestuur,” sê Le Roux.

Sakeliga vra dat, indien die president ingevolge wetgewing verplig sou wees om wel die wetsontwerpe te onderteken en dus te bekragtig, Ramaphosa dit sou kon oorweeg om die datums vir hul inwerkingtreding so ver as moontlik uit te stel. “U sou daarmee aan die parlement die geleentheid bied om in die lig van verwikkelinge sy posisie te heroorweeg en alternatiewe of bykomende wetsontwerpe te ontwikkel voordat die huidige wetsontwerpe in werking tree.”

Le Roux sê só ʼn stap sou weliswaar ook diplomatieke skakeling met betrokke verteenwoordigers van die VSA vereis, ten einde hulle te verseker dat die vertraging ʼn toepaslike meganisme is om aan die parlement die geleentheid te bied om alternatiewe wetgewing te ontwikkel, wat die huidige besorgdhede agter die GSP-hersiening uit die weg kan ruim.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Feite ·

Ek hoop sakeliga het die adviesbrief onder n skuilnaam gestuur, want as CR sien dat dit van sakeliga afkomstig is sal hy dit in die kas bere tot na die transformasie teikens vir de-kolonialisasie behaal is!

Geelslang ·

Ja hulle het. Sakeliga het dit onder die skuilnaam Jerry gestuur.

Johan ·

Die regering voel n veer. Hulle sal die land aanhou vernietig tot daar van SA niks oorbly nie.

Kuhgirl ·

Die ANC-regering is maar te dankbaar om enige geleentheid om “interference by Western imperialist forces into the affairs of South Africa” te benut. En as dit WMC binne SA negatief affekteer soveel te beter. Of dit nou SA se ekonomie verder verswak of nie, dis van sekondêre belang.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.