Beskuldigdes pleit op eerste dag van Meyiwa-verhoor

Senzo Meyiwa. (Foto: soccerladuma.co.za)

Die vyf mans wat teregstaan vir die opspraakwekkende moord op die voormalige Bafana Bafana-kaptein Senzo Meyiwa, het skuld ontken.

Muzikawukhulelwa Sibiya, Bongani Sandiso Ntanzi, Mthobisi Prince Mncube, Mthokoziseni Maphisa en SifikuhleNkani Ntuli Sifiso het Vrydag in die Pretoriase hooggeregshof onskuldig gepleit op die aanklagte teen hulle.

Die vyf staan tereg op aanklag van moord, poging tot moord, gewapende roof, die besit van vuurwapens sonder ’n lisensie en die besit van ammunisie. Hul verhoor het vroeër vandag eindelik in die hooggeregshof begin nadat dit twee weke gelede uitgestel is. Die moordsaak sloer al jare.

“Hoewel dit stotterend begin het, het die verhoor darem uiteindelik ná agt jaar ’n aanvang geneem en ons is hoopvol dat dit na dese gladder sal verloop sodat die Meyiwa-familie, sowel as die gemeenskap uiteindelik geregtigheid kan kry vir hierdie sinnelose moord,” sê adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het ’n waaksaamheidsopdrag namens Meyiwa se ma, Ntombifuthi, en susters Zama en Nomalanga Meyiwa, in die saak.

Die verhoor sal Maandag voorgesit word wanneer die staat na verwagting sy eerste getuie, die polisiefotograaf, sal roep.

Volgens Nel sal adv. George Baloyi, die aanklaer in die saak, na verwagting getuienis lei oor onder meer die fotoalbum en sketsplan van die huis in Vosloorus waar Meyiwa in Oktober 2014 vermoor is.

Meyiwa is op 26 Oktober 2014 by sy vriendin, die sangeres Kelly Khumalo, se ma se huis doodgeskiet.

Twee mense het dié betrokke aand by die huis, waar verskeie ander mense teenwoordig was, ingebars. Hulle was gewapen met ʼn vuurwapen en ʼn mes en het geld en selfone geëis.

ʼn Stoeiery het tussen Meyiwa en die aanvaller met die vuurwapen ontstaan. ʼn Skoot het afgegaan wat Zandile Lorraine Khumalo – Kelly se suster – in die enkel getref het nadat dit van die vloer af opgeslaan het. Die aanklag van poging tot moord spruit uit dié skoot.

ʼn Tweede skoot is afgevuur en Meyiwa is in die bors geskiet. Die koeël is deur sy liggaam en het ʼn agterdeur, waarteen Meyiwa gestaan het, getref.

ʼn Selfoon is van Kelly Khumalo geroof, waarna die rowers gevlug het.

Meyiwa is later kort ná sy aankoms by die Botshelong-hospitaal in Vosloorus dood.

Luidens die klagstaat, wat Maroela Media onder oë gehad het, is twee of drie skote die aand van die moord afgevuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.