Bestuurder ontken bewerings oor tender-‘onreëlmatighede’

Moeketsi Mosola, munisipale bestuurder van die Tshwane-metro, tydens die mediakonferensie. Foto: ANA

Moeketsi Mosola, munisipale bestuurder van die Tshwane-metro, het Woensdag volgehou dat hy onskuldig is in die toekenning van ʼn multimiljoenrand-kontrak vir projekbestuur.

Die tender is aan die maatskappy GladAfrica toegeken om toesig te hou oor infrastruktuurprojekte.

“Ek wil dit op skrif stel dat Solly Msimanga, die uitvoerende burgemeester, op 8 Augustus aan my as die stadbestuurder van Tshwane geskryf en inligting versoek het oor die proses wat gevolg is in die aanstelling van Ariya Project Managers se GladAfrica-groep,” het Mosola by ʼn mediakonferensie in Pretoria gesê.

“In sy brief het die burgemeester ʼn omvattende verslag versoek saam met ondersteunde dokumentasie wat voor of op 14 Augustus aan hom voorsien moes word.”

Mosola sê hy het op 10 Augustus ʼn navraag oor dieselfde aangeleentheid vanaf ʼn joernalis van die Sunday Times ontvang. “Ek het vir hom in ʼn WhatsApp-boodskap gesê dat die burgemeester formeel aan my geskryf en versoek het dat ek ʼn deeglike verslag oor die saak saamstel en alvorens ek dié verslag aan die burgemeester voorsien het, is ek nie in ʼn posisie om kommentaar te lewer nie.”

Mosola het gesê hy kon nie op die vrae van die Sunday Times-joernalis reageer nie omdat hy verbind is tot behoorlike interne prosesse. Die storie is daarna geplaas waarin daar beweer word dat GladAfrica die Tshwane-munisipaliteit sakke vol geld kos nadat kontrakte van ongeveer R12 miljard aan die maatskappy toegestaan is.

Moeketsi Mosola, munisipale bestuurder van die Tshwane-metro, en Solly Msimanga, die uitvoerende burgemeester, tydens die mediakonferensie. Foto: ANA

Volgens die berig het GladAfrica oor die afgelope ses maande nog R250 miljoen in konsultasiefooie in sy sak gesteek wat deur Tshwane se afdeling vir paaie en vervoer aan die maatskappy betaal is.

Mosola het egter Woensdag volgehou die behoorlike diensverskaffingsproses is gevolg en die proses wat deur die span van die Development Bank of Southern Africa gevolg is om ʼn paneel van diensverskaffers saam te stel was mededingend en geloofwaardig. Hy het gesê daar is niks onreëlmatigs aan GladAfrica se aanstelling nie en dié aanstelling voldoen ten volle aan die voorskrifte van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur.

“Ek stel daarom al die nodige dokumente rakende hierdie kontrak beskikbaar vir die publiek om te bestudeer,” het Mosola by die mediakonferensie gesê.

Msimanga, wat langs Mosola by die konferensie gesit het, het gesê hy is trots daarop dat hy nie iemand is wat korrupsie verdoesel nie en indien enigiets onreëlmatigs gebeur het, sal hy stappe doen. Msimanga het bevestig dat hy ʼn omvattende verslag oor die saak van Mosola af ontvang het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

eva ·

opposisie partye in die munisipaliteite (indien daar is) moet tendertoekenning doen. dit behoort korrupsie so effe te briek

honourable member ·

Vir hierdie mense gaan dit net oor selfverryking dis hoekom elke munisipaliteit bankrot is. Dienslewering bestaan nie in hulle woordeskat nie….

Andre ·

Hoekon is daar so baie projekte met sulke projek bestuur kostes wat niemand sien en waarom moet die eksterne maatskappy die projekte doen. Is die mense wat by munisipaleteit nie bevoeg om die werk self te doen soos by Eskom en die ander staats instansies.

Same old ·

Janee dit is altyd iemand anders, hulle is baie eager om die tenders uit te deel en kommissie te ontvang maar nie so eager om die geld terug te betaal of te erken hulle het ‘n fout gemaak nie.

Frans ·

Munisipaliteite funksioneer as “TUSSENGANGERS”. Aangestel in poste as “bevoeg” om werk te kan doen, maar stel eksterne instansies aan om die werk namens hulle te doen. Lekker tipe werk! Kry maandelikse inkomste om werk na buite instansies te “delegeer”. Skuif dus hulle verantwoordelikhede op iemand anders af. Intussen word hulle nie aanspreeklik gehou vir hulle optredes of die van aangestelde instansies nie. Duidelik is hulle onbevoeg om enige verantwoordelikhede te kan of te wil hanteer. Maar ons wat belasting moet betaal, befonds hulle en subsideer indirek ook die aangestelde instansies wat die werk namens die edele munisipaliteite verrig (of moes verrig). “Werkskepping” is seker die visie!

Riaan ·

Ja en intussen word die inwoners as “cash cows” gesien. Meter word geestimate maand na maand en dit help nie ons kla nie want nie Msimangsa of die korrupte munisipale bestturder gee om nie. Worry net om hulleself te verryk.
Op 20 Julie het ek dispuut verklaar oor foutiewe rekening. Nadar ek twee moes navrae doen dui die “quality assurance unit” wat dispute moet hanteer dat my dispuut reeds in Maart afgehandel is.???
Onbevoegde, patetiese spul skelms, maar moenie worry in die volgende verkiesing vat anc of eff Pretoria bestuur oor.

Theresa B ·

Asof hulle enige iets sal erken……………………………

Colleen ·

Nie moeilik om te glo wie is GladAfrica se direkteure nie. Die skuld vir die gemors gaan nou van die een na die ander oorgeplaas word en so word NOG ‘n kommissie van ondersoek aangestel en NOG minder werk gedoen en die kommissie se verslag word net nooit uitgereik nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.