Nkosana Makate, die sogenaamde skepper van Vodacom se Please Call Me-diens, het Donderdag gesê hy is dankbaar vir die publiek se ondersteuning rakende sy twis met Vodacom.
ʼn Groep van sowat 200 betogers het onder die wakende oog van polisiebeamptes by Vodacom se hoofkantoor in Midrand bymekaargekom. Die betogers is deel van die sogenaamde #PleaseCallMe-beweging ter ondersteuning van Makate.
Vodacom het intussen die winkels by sy hoofkantoor gesluit. Ander Vodacom-takke is glo ook gesluit uit vrees vir personeel se veiligheid.
Makate het aan African News Agency gesê hy sal hom nie by die betoging aansluit nie, maar dit op sosiale media volg.
“Dit is ʼn persoonlike besluit, maar ek waardeer die ondersteuning verskriklik baie. Ek is dankbaar dat ek ondersteuning ontvang van Suid-Afrikaners van verskillende agtergronde.”
Makate het die aanbod wat Shameel Joosub, Vodacom se uitvoerende hoof, hom vroeër die maand gemaak het as “skokkend en ʼn belediging” beskryf. Volgens berigte het Vodacom hom R49 miljoen aangebied. Vodacom en Makate het ʼn nie-openbaarmakingsooreenkoms geteken en Makate wou dus nie bevestig dat hy R70 miljard by Vodacom versoek, soos wat in die media beweer word nie.
“Ek beraadslaag tans met my regspan oor die stappe wat ons hierna moet doen. Die logiese stap is om die aanbod op hersiening te neem. Ons moet nog besluit of ons hooggeregshof toe gaan of weer die konstitusionele hof sal nader.”
Die konstitusionele hof het in April 2016 beslis dat die twee partye ʼn konsensus moet bereik en onderhandel hoeveel vergoeding Makate moet ontvang. Daar is wyd berig dat Vodacom ʼn geraamde R70 miljard deur die diens verdien het en Makate het aanvanklik 15% daarvan (R10,5 miljard) geëis.
Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, is in sy persoonlike hoedanigheid deel van die beweging. Lesufi het ʼn prokureursbrief wat Vodacom aan hom gestuur het op Twitter gedeel. In die brief word Lesufi versoek om nie valse en lasterlike uitlatings te maak rakende Vodacom nie, asook nie mense aan te moedig om deel te wees van protesoptrede teen die selfoondiensverskaffer nie.
Vodacom het Lesufi gewaarsku dat strafregtelike vervolging hom in die gesig staar, sou dit plaasvind. Lesufi het egter in reaksie gesê hy sal nie geïntimideer of stilgemaak word nie.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
39 Kommentare
Sjoe! Ek sou die R49 miljoen vat en breed glimlag, dis mos vir ons gewone mense baie baie geld? :-)
Het nie een van daai 200 mense iets beters om te doen nie? Genade…wat presies het dit met hul uit te waai? Soek seker `n incentive vir participation. Belaglik.
Ek sien een plakaat se Vodacom stop Racism. Interesant dat die saak ook so gesien word.
Darem het hulle nou iets om te doen vir die dag dalk moet ANC gaan hemde uitdeel daar en kospakkies lekker uitstappie maak soos altyd.
Ag, goeie genade – en daar is die bord “Vodacom stop RACISM” – wat op aarde het dit alles met rasisme te doen. Niks wat hierdie ou nasietjie sê dra meer gewig nie – niemand neem hulle meer ernstig op nie, want al wat hulle ken is ‘RACISM” en vloermoere.