Beurtkrag knou klein dorpies – DA

(Argieffoto: Unsplash)

Die DA in die Tswaing- plaaslike munisipaliteit in Noordwes sê dat beurtkrag en voortslepende kragonderbrekings verreikende gevolge vir dié landelike munisipaliteit inhou wat sy gemeenskappe versmoor.

Die DA versoek selfs nou dat Tswaing tot ʼn rampgebied verklaar en van beurtkrag vrygestel word.

Die party het Woensdag ’n oorsiginspeksie in Delareyville en Sannieshof gedoen om vas te stel hoe beurtkrag en gereelde kragonderbrekings weens kabeldiefstal hierdie gemeenskappe raak.

Carin Visser, die DA se kiesafdelingshoof in Noordwes, sê beurtkrag het veral ’n ernstige uitwerking op die lewensgehalte van bejaarde inwoners wat spesiale sorg benodig. Sy het spesifiek na Huis Delarey in Delareyville verwys, waar die bestuur Dinsdag noodgedwonge die familielede van 89 bejaardes moes kontak om hul geliefdes te kom haal omdat die ouetehuis nie die sorg kon verskaf nie.

Volgens Visser het ’n ondergrondse hoofspanningskabel ontplof toe elektrisiteitstoevoer Dinsdag ná geskeduleerde beurtkrag om 16:00 herstel is. Dit het die fasiliteit tot 03:00 Woensdagoggend sonder elektrisiteit gelaat. Kabeldiefstal is nog ’n groot probleem wat gereeld verdere onderbrekings veroorsaak. Dié misdrywe vind veral snags plaas en gedurende tye wanneer beurtkrag ingestel is.

Boeregemeenskap ook geraak

Visser sê dat beurtkrag en bykomende elektrisiteitsonderbrekings ook sy tol op die boeregemeenskap eis.

“Dit vertraag die vervoer van oeste na silo’s aangesien baie ure verlore gaan om te wag vir elektrisiteitstoevoer om graan af te laai. Boere is ook huiwerig om landerye vir die saai van koring voor te berei omdat die risiko van langdurige elektrisiteitsonderbrekings die besproeiing van landerye negatief sal beïnvloed. Pluimveeboere verloor die grootste deel van hul broeipare weens die elektrisiteitsonderbrekings.”

Visser sê beurtkrag en onderbrekings jaag boere boonop derduisende rand vir diesel uit die sak om kragopwekkers te laat loop om te verseker dat water gepomp kan word en dat pluimvee warm gehou word.

“Daarbenewens moet baie boere in alternatiewe energiebronne belê om net die basiese bestuur van hul bedrywighede te verseker. Dit lei daartoe dat insetkoste die hoogte inskiet en sal lei tot toenames in voedselpryse en verdere werkverliese wat ons nie kan bekostig nie.

“NWK het byvoorbeeld agt silo-aanlegte in die omgewing. Tydens kragonderbrekings beloop die bykomende koste om elke aanleg te bedryf tot R30 000 per dag.”

Visser sê boere in die Tswaing‑omgewing het verder 52 bakkies op eie koste beskikbaar gestel om kabeldiefstal te bekamp deur groot elektrisiteitslyne tydens beurtkrag en snags te patrolleer.

Volgens Visser is Sannieshof ’n gewilde teiken vir kabeldiefstal tydens beurtkrag.

“Kabeldiewe het Dinsdag vir die 21ste keer die afgelope tien maande toegeslaan en Sannieshof en omgewing vir lang tye sonder elektrisiteit gelaat. Plaaslike boere en die polisie het reeds twee suksesvolle inhegtenisnemings gemaak, maar nuwe groepe diewe daag op sodra beurtkrag begin. Dit neem Eskom elke keer meer as 24 uur om ’n gesteelde kabel te vervang terwyl inwoners en besighede deur nóg ’n dag sonder elektrisiteit sukkel.”

Visser sê voorts dat die kragnetwerk in Delareyville oor die afgelope 25 jaar nie opgegradeer is nie, terwyl twee bykomende dorpe tot hierdie ou netwerk gevoeg is.

“Dit het daartoe gelei dat die vraag die aanbod oorskry en dus gereelde onderbrekings veroorsaak weens ’n oorlading van die stelsel. Die stelsel faal vyf of ses keer ná ’n beurtkragsessie, wat groot skade aan toestelle en toerusting veroorsaak.”

‘Verklaar Tswaing tot rampgebied’

Die DA beplan om aan Lenah Miga, die LUR vir samewerkende regering, en Eskom te skryf om te versoek dat Tswaing as ’n rampgebied verklaar en van beurtkrag vrygestel word weens die vervalle infrastruktuur en die voorkoms van voortdurende kabeldiefstal.

“Tswaing is dalk ’n landelike munisipaliteit, maar die uitwerking en koste van beurtkrag en kragonderbrekings het verreikende gevolge wat gemeenskappe versmoor.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

SjN ·

So gaan àlles ten gronde, rommelstatus en hul het Geen skaamte.

Miskruier ·

Wanneer die honger kom, sal daar aan die tyd terug gedink word.

Christine ·

Solidariteit wat ingebring is om Eskom se arbeidsprobleme oor te neem, moet regtig almal afdank by Eskom wat hulself skuldig maak aan sabotasie van dienste. Ons kry sommer beurtkrag waar dit nie geskeduleer is nie.

Witbaard ·

More DA, word wakker, die HELE LAND is ‘n rampgebied!!!!!!!!

Republikein in die Wes Kaap ·

Dr Roelof Botha reken Suid Afrika doen goed en die ekonomie presteer eintlik fantasties.

KatjieDeKat ·

Die man het seker eergister op planeet Aarde aangekom. Gister Sri Lanka besoek, vandag Suid Afrika. Want dis letterlik al manier hoe hy tot daardie slotsom sou kon kom.

Republikein in die Wes Kaap ·

En JP Landman reken die land is beter daaraan toe as vyf jaar gelede.

Swerwer ·

Geen uitsondering vir sekere dorpe en wesens nie, almal gaan gebuk onder dieselfde met hierdie
belaglike tendens van beurtkrag omdat die ANC en EFF alles deur hul …………………… getrek/vernietig het en nie die IK het om te besef dat hul die rede vir ons land se Rommelstatus is nie.

Kokerboom ·

Die ANC is grootste ramp wat SA ooit getref het. Ipv heeltyd kerm en kla laat ons die glas half vol sien en die uitdagings aanpak. Daar is oplossings..die wil ontbreek net! Sny die politieke kanker in ons land uit..

AJ ·

Groot organisasies soos SOLIDARITEIT kan:

1. massa aankope van sonpanele ens. in China doen om dit teen billike pryse in SA aan lede te verkoop. ten einde bottelnekke met voorsiening van panele en prys manipulasie te voorkom.

2. Internasionale befondsing (gunstige lenings) te bekom vir lede wat solar instaleer.

Dit sal die SOLAR REVOLUSIE bespoedig!

Republikein in die Wes Kaap ·

Spoedig is Eskom uit besigheid. Dan word die laaste Solidariteit lede afgedank. Die swaard sny na beide kante.

Misky ·

Mens lees berigte soos die en dink dan aan die klomp stinkryk ministers wat nooit beurtkrag kry nie. Nie eens gepraat van die kabeldiefstal en dan dae sonder krag sit nie. Dis is skaamteloos!!!!

Jacobus ·

Geen uitsonderings aub. In meeste klein gemeenskappe is daar min raadslede behalwe ANC. Die enkele ander raadslede, in ons geval DA’s wat geen vinger verroer om bydrae te lewer nie. Om die waarheid te sê deel van probleem. In sommige gevalle word intervensies geïgnoreer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.