Beurtkrag ons voorland; prestasiebonusse vir goeie werkers

(Argieffoto: GCIS)

Die kragvoorsiener Eskom het Donderdag tydens ʼn perskonferensie aangedui dat Eskom ʼn tweejaarplan voorgelê het vir die huidige kragopwekkingskrisis.

Mteto Nyati, raadslid en een van Eskom se direkteure wat in September verlede jaar aangestel is, het ontken dat hulle onder druk van die ANC-regering is om beurtkrag teen Desember tot ʼn einde te bring. “Ons het bekwame raadslede, wat ook deel vorm van die tegniese bestuur, wat ʼn tweejaarplan voorgelê het. Dit is die plan wat ons aan almal gekommunikeer het – ook aan die regering.”

Dit volg ná Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC, Dinsdag gesê het die party het planne om beurtkrag teen Desember tot ʼn einde te bring.

Nyati sê egter Eskom is oop vir voorstelle en hulle sal enigiets verwelkom wat die kragvoorsiener sal help om dié tydlyn te verkort.

Nyati het bygevoeg dit is vir die raad van Eskom ook belangrik om meer mag aan die plaaslike Eskom-bestuur oor te gee wat betref prestasiebonusse vir goeie werknemers. “As iemand hard werk en goed presteer, dan is dit net reg dat daardie persoon daarvoor beloon word. Dit kan in die vorm van ʼn verhoogde salaris of bevordering wees. Ons kan nie iemand op ʼn gelyke voet behandel wat lyf wegsteek nie.”

Beurtkrag-vooruitsig

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Thomas Conradie, waarnemende opwekkingshoof, het laat blyk dat fase 4-beurtkrag waarskynlik Vrydag ingestel sal word. “Indien alles vlot verloop, sal ons Saterdag waarskynlik fase 3-beurtkrag kan aankondig.”

Volgens Conradie word daar baie dringend aandag gegee aan enige kragonderbrekings, veral wat betref die hoeveelheid eenhede wat op beplande instandhouding is. “Dit is belangrik om dié eenhede weer aan te skakel en dat die instandhouding nie langer duur as wat beplan is nie. Ons plaas baie fokus daarop om seker te maak dat die eenhede betyds en betroubaar aangeskakel kan word – dit geld ook onbeplande instandhouding.”

Conradie sê die hoë vlakke van onbetroubaarheid op die netwerk beteken dat die kragvoorsiener nie kan voorspel wanneer eenhede nie beskikbaar gaan wees nie. “Daarom is dit ook belangrik dat ons ons reserwes so noukeurig as moontlik bestuur – dit sluit dieselvoorraad in by die oopsiklus-gasturbines.”

Conradie sê die onbetroubaarheid van die eenhede hou met ʼn rits faktore verband, onder andere omdat daar jare lank nie gereeld instandhouding gedoen is nie. “Die instandhouding is nie gereeld gedoen nie as gevolg van ʼn gebrek aan finansies, maar ook omdat daar soms ʼn gebrek aan kapasiteit was. Van die eenhede kon dus nie vir beplande instandhouding afgeskakel word nie.”

Hy sê ʼn gebrek aan ervaring en kennis lei ook tot menslike foute wat dan kortsluitings veroorsaak en noodsaak dat ʼn eenheid afgeskakel moet word, maar dit word reggestel en die eenhede word weer aangeskakel. Daar is ook gevalle van inmenging, maar dit is in die minderheid, aldus Conradie.

Hy sê dit is ook belangrik om die toestand van elke kragopwekkingseenheid in gedagte te hou wanneer mens na die oorsake van onbeplande instandhouding kyk – dit sluit in die toestand van die eenheid self; die ouderdom van die eenheid; in watter fase van instandhouding die betrokke eenheid is en die omvang van instandhouding wat by die kragstasie gedoen is.

Prioriteite vir die raad

Nyati het bygevoeg dat daar verskeie kwessies is waaraan die raad aandag skenk en dat dit vir die raad belangrik is om die bestuur van Eskom kans te gee om die dag-tot-dag kwessies op te los en die dringendheid daarvan te takel. Dit sluit die volgende in:

  • Kragopwekkingsherstelplan: Dit is ʼn plan wat oor 24 maande sal strek en wat sal fokus op die prestasie van die belangrikste kragstasies en om alle uitdagings te takel by die topses kragstasies. Die fokus is die beplande instandhoudingsprogram en om seker te maak die plan word uitgevoer.
  • Beplande en onbeplande onderbrekings: Koeberg 1 is op beplande instandhouding en alles verloop tans volgens plan. “Dit is belangrik dat Koeberg 1 sonder enige vertraging en volgens beplanning aangeskakel word. Dit sal baie stabiliteit beteken.” Kusile 1, 2 en 3 sal waarskynlik eers oor ʼn jaar aangeskakel kan word. “Ons ondersoek maniere om dié herstelwerk te bespoedig.”
  • Mens en kultuur: “Die meerderheid van Eskom-werknemers is wonderlike mense en hulle doen uitstekende werk. Dit is baie belangrik om hulle te ondersteun sodat hulle die plan kan uitvoer. Ons moet hulle beloon sodat hulle kan volhou met dit wat van hulle vereis word.”
  • Finansiering vir diesel: “Ons kan nie bekostig om nie geld te hê vir diesel nie. As die raad van Eskom ondersoek ons maniere saam met die bestuur om finansiering te bekom om die oopsiklus-gasturbines op die netwerk te hou sodat ons die fases beurtkrag kan verlig.”
  • Regeringsinstaatsellers: “Dit is vir ons baie belangrik om nuwe kapasiteit te skep. Onderhandelings met belanghebbendes is vir ons prioriteit.”

Nuwe uitvoerende hoof

André de Ruyter (Foto: Maroela Media)

Nyati het bevestig die proses, om ʼn nuwe uitvoerende hoof aan te stel ná André de Ruyter sy bedanking ingedien het, is reeds aan die gang. “Die soeke na ʼn nuwe uitvoerende hoof word gelei deur die voorsitter van die raad. ʼn Nominasieskomitee sal oor die volgende twee weke ʼn lys van kandidate ontvang waarna ʼn kortlys aangestel sal word.”

Volgens Nyati sal daar, ná Jan Oberholzer in April aftree, nie weer ʼn nuwe bedryfshoof aangestel word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.