Bib-kultuur in Kaapstad lekker en lewend

Biblioteke is steeds ʼn gewilde bestemming vir Kaapstad se inwoners (Foto: verskaf)

Die Moederstad is ryk aan geskiedenis, verskeie kulture en bied ʼn beeldskone landskap. Boonop is dié stad se biblioteke steeds ʼn gewilde bestemming vir Kaapstad se inwoners.

Volgens Patricia van der Ross, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid in Kaapstad, is daar sedert Julie verlede jaar tot Maart vanjaar byna 7,1 miljoen biblioteekbesoeke aangeteken.

Mense het meer as 4,6 miljoen boeke uitgeneem en 18 407 nuwe lede het in die ses maande tussen Julie en Desember by biblioteke aangesluit.

Daarbenewens het personeellede 569 leesprogramme en 5 323 storievertelsessies gelei. Tussen Januarie en Maart vanjaar het meer as 33 000 kinders aan hierdie programme deelgeneem.

As iemand enige twyfel het oor ʼn biblioteek se plek in die samelewing, sal hierdie statistiek hopelik die rekord regstel. Vir baie is die plaaslike biblioteek die plek waar hulle ʼn verhouding met stories, woorde en boeke bou terwyl dit talle deure vir hulle open.

“Hierdie Wêreldboekedag wil ons almal aanmoedig om op hul eie manier te lees – teen hul eie tempo, op hul eie tyd en watter titel of onderwerp ook al hul lus bevredig,” sê Van der Ross.

Sy beklemtoon dat dit belangrik is om te onthou dat kinders leef wat hulle leer.

“Hoewel baie van ons fokus op geletterdheid in hierdie ouderdomsgroep is, moet ons as volwassenes van voor af lei. Dit is belangrik om saam met jou kinders te lees, maar laat hulle ook sien hoe jy vir jou eie genot lees. Boeke en die stories wat dit bevat, behoort lewenslange metgeselle vir oud en jonk te wees,” sê Van der Ross.

Die stad se biblioteke is die tuiste van ʼn aantal klassieke titels, maar heelwat moeite word ook gedoen om die versamelings uit te brei en met moderne tye by te hou.

Leesmateriaal word op ʼn deurlopende basis bygewerk en elke biblioteek stel ʼn versameling-ontwikkelingsplan op wat hul aankope rig. Dit strook gewoonlik met die behoeftes van die gemeenskap wat die spesifieke biblioteek bedien.

Van der Ross sê sekere stories is tydloos en sal altyd ʼn gunsteling op die rakke wees, dus probeer die biblioteek- en inligtingsdiens om op hoogte van alle nuwe verwikkelinge te bly.

“Die stad besef dat die storielyne en vertellings verander soos geslagte verander, en wat by generasie Z kan aanklank vind, is nie noodwendig vir generasie Z interessant nie. Ons moet dus seker maak dat hierdie ruimtes vir almal relevant bly,” sê Van der Ross.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johann ·

Ja wel julle moes eerder stil gebly het oor die boeke…daars ‘n sektor in ons samelewing wat maar al te graag darri bookh whl brant

JohanR ·

Dankie vir die biblioteke. Ek neem elke week omtrent drie boeke uit in Rondebosch, en alles verniet. Hoe bekostog iemand deedae ‘n nuwe boek wat jou R400 kos? Sonder biblioteke waar sal ons leesstof kry?

Rooikopheks ·

Tweedehandse boekwinkels is na my mening ń wenner, dis al waar ek my boeke koop, nuwes is te duur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.