Blind SA hof toe oor kopieregwet

Argieffoto (Foto: Bookish Relish)

Die organisasie Blind SA het die hooggeregshof van Suid-Afrika genader om die bestaande wetgewing oor kopiereg te betwis en die omstrede wysigingswetsontwerp daaroor finaal te laat goedkeur.

Die wysigingswetsontwerp is in 2015 voorgestel en sloer al jare lank. Die parlement het dit in 2018 aanvaar, maar verlede jaar weer laat hersien. Blind SA sê siggestremdes in Suid-Afrika word intussen ontneem van toegang tot miljoene publikasies.

Die wysigingswet maak voorsiening daarvoor dat inhoud uit rolprente of boeke binne redelike perke gereproduseer kan word sonder die betaling van tantieme. Só kan siggestremdes ook toegang tot die inhoud van materiaal verkry deur dit na braille om te skakel.

Blind SA gaan die hof vra om die huidige wet ongrondwetlik te verklaar en die wysigingswetsontwerp tydelik in die wet, met onmiddellike inwerkingtreding, in te sluit. Dit is sodat persone met siggestremdheid so gou moontlik kan begin baat by die verandering terwyl die parlement die kwessie afhandel.

Die organisasie, verteenwoordig deur Section27, het ook betoë ingedien dat die minister van handel, nywerheid en mededinging, Ebrahim Patel, die minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Naledi Pandor, die speaker van die Nasionale Vergadering, Thandi Modise, die voorsitter van die nasionale raad van provinsies, Amos Masondo, en pres. Cyril Ramaphosa hul grondwetlike en internasionale verpligtinge teenoor mense met siggestremdhede moet nakom.

In die hofstukke lig die groep die diskriminerende aspekte van die wet uit en sê indien die parlement nie binne ʼn jaar hierdie kwessies takel nie, hy die hof gaan vra om die tydelike toelating permanent te maak. Blind SA eis ook dat die regering die Marrakesj-verdrag – wat verbeterde toegang tot gepubliseerde werk vir siggestremdes wil verseker – moet bekragtig.

Blind SA sê een van die grootste probleme met die huidige wet is dat dit nie uitsondering maak om materiaal, wat deur kopiereg beskerm word, om te skakel na geskikte formate vir mense met siggestremdheid nie. Op die oomblik is slegs 0,5% van alle publikasies in ’n geskikte formaat vir dié mense beskikbaar.

Die wet dwing ook mense met siggestremdheid om die toestemming van die outeursreghouer te verkry om die publikasie in toeganklike formate te omskep. Hierdie outeursreghouer verwerp of ignoreer dikwels sulke versoeke. Die proses om toestemming te kry, duur soms ook lank.

“Dit lei tot ʼn boekedroogte vir diegene met siggestremdhede wat diskriminasie tot gevolg het. Die kopieregwet maak inbreuk op die regte van siggestremdes, veral ten opsigte van die regte op gelykheid, waardigheid, basiese en verdere onderwys, vryheid van uitdrukking en taal,” sê Blind SA in ʼn verklaring.

“Verder strook hierdie wet ook nie met talle internasionale verbintenisse soos die Marrakesj-verdrag nie.”

Dié verdrag is ʼn poging om toegang tot gepubliseerde werk vir mense wat blind, siggestremd of andersins nie gedrukte materiaal kan gebruik nie, te vergemaklik.

Vennote, waaronder die afgetrede regter van die Konstitusionele Hof, Zac Yacoob, en Marcus Low, Spotlight-redakteur, het ondersteunende beëdigde verklarings gelewer as blinde persone wat eerstehands die boekedroogte ervaar het.

Blind SA sê die impak wat die wet op leerders met siggestremdhede het, is onaanvaarbaar.

“Ons kan nie langer vir die regering wag nie. Ons moet hierdie boekedroogte van die lees-gestremde burgers stopsit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

jzjz05 ·

Dit is eie aan die regering van die dag om so te sloer met sake van belang.hulle wens eers dit gaan weg

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.