Boere het meer van begroting verwag

Landbou-organisasies sê hulle het meer van die begroting verwag. (Foto: Du Preez de Villiers)

Die minister van finansies het positiewe aankondigings in sy mini-begroting gedoen, maar Agri SA sê hy is steeds teleurgesteld dat die regering versuim het om enige werklike ingrypings aan te kondig wat Suid-Afrikaanse boere sal ondersteun.

Ook die SA Rietkwekersvereniging, hoewel hy sommige aankondigings verwelkom, het sy groot teleurstelling oor Enoch Godongwana se mediumtermynbegroting te kenne gegee.

Dr. Thomas Funke, uitvoerende hoof van die vereniging, sê die organisasie verwelkom ʼn besluit dat werk gemaak gaan word van die skade wat tydens die oorstromings in KwaZulu-Natal in April aangerig is. Die meeste van Suid-Afrika se suikerriet word in dié provinsie verbou en produsente is erg geraak.

Kulani Siweya, hoofekonoom by Agri SA, sê die tesourie se verbintenis tot verhoogde besteding aan infrastruktuur is bemoedigend en dat dit die ekonomie hopelik op ʼn groeikoers sal plaas.

Agri SA is ook “versigtig optimisties” oor beoogde besteding aan staatsbeheerde ondernemings (SBO), maar sê tot dusver het dit nie goeie uitkomste verseker nie. Die gevaar bestaan boonop dat die staat se oorneem van ʼn gedeelte van Eskom se skuld verdere wanbestuur kan beteken.

Die organisasie bly egter bekommerd oor die minister se versuim om enige geteikende verligting vir die landboubedryf aan te kondig.

“Die sektor, ʼn sleutelbydraer tot die Suid-Afrikaanse ekonomie en die een wat voedselsekerheid waarborg, is die swaarste getref deur stygende insetkoste. Boere bevind hulself in ʼn benarde finansiële posisie. Tog het minister Godongwana nie ʼn enkele maatreël aangekondig om die volhoubaarheid van die sektor te help verseker nie.”

Daar was geen verligting vir bedrywe wat lamgelê word deur sondebelasting nie en daar was ook geen aankondiging oor ʼn hersiening van belastingverliese of nuwe reëls rakende die dieselkortingskema nie.

Bitter oor suikertaks

Funke sê belegging in die herstel van belangrike infrastruktuur is ʼn noodsaaklike ingryping, maar is van beperkte waarde terwyl die bedryf steier onder die las van ʼn ongegronde suikerbelasting.

Hy sê daar was geen aanduiding in die mini-begroting oor die toekoms van die gesondheidsbevorderingsheffing (beter bekend as die suikerbelasting) nie. Dit is ʼn kwessie wat Funke bestempel as ʼn “eksistensiële krisis” vir die land se rietkwekersbedryf en breër suikerwaardeketting.

Hy sê die belasting verwoes werkgeleenthede en smoor die suikerbedryf se groei en bydrae tot die ekonomie. Die sektor is ʼn groot werkgewer, veral in landelike gebiede in KwaZulu-Natal en Mpumalanga en syfers wys dat die suikerbelasting die bedryf net in die eerste jaar sowat 16 000 werkgeleenthede gekos het.

“In ʼn ekonomiese klimaat gekenmerk deur lae groei en hoë werkloosheid, kan die land nie bekostig om meer werkgeleenthede ter wille van die suikerbelasting op te offer nie. Dit is veral só in die afwesigheid van enige bewyse dat die suikerbelasting inderdaad vetsug verminder, soos wat hy sê die doel daarvan is,” sê Funke.

Die vereniging verwag boonop verdere werkverliese. Indien die belasting op die huidige koers volgehou word, kan dit die bedryf nog 15 984 werkgeleenthede kos en bydra tot ʼn afname van 46 000 ha onder suikerriet oor die volgende dekade. Dit is hoofsaaklik kleinskaalse produsente en landelike gemeenskappe wat die grootste las hiervan gaan dra.

In die Februarie-begroting het Godongwana aangedui dat die belasting dalk verhoog kan word, en die 4g-drempel verlaag en die heffing na vrugtesap uitgebrei word.

“Die uitwerking hiervan sal katastrofies wees en gaan enige vordering wegkalwe wat gemaak is om die toekoms van die bedryf onder die vaandel van die meesterspan vir die suikerrietwaardeketting te verseker,” sê Funke.

Gesprekke tussen die vereniging en die presidensie en tesourie hieroor duur voort en Funke sê hulle hoop die stilte daaroor is ʼn aanduiding dat die beoogde verhoging nie ʼn uitgemaakte saak is nie.

Siweya sê Agri SA gaan ook voort om met die regering en die tesourie te beraadslaag om ʼn belasting- en beleidsraamwerk te skep waarbinne die landbousektor kan floreer en die behoeftes van die bedryf in ag neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Swerwer ·

Natuurlik kan daar nie ondersteuning van ‘n Rassistiese Kommunistiese Regering verwag word nie.

Piet parys ·

Maak bio brandstof van die suikerriet. Behoort dalk meer winsgewend te wees.

Pietertjie ·

Weereens ‘n valse hoop en vertroue op die “prinse”. Wanneer gaan die boere agterkom dat hulle slegs op hulleself aangewese is, en NOOIT enigiets behalwe leë beloftes gaan ontvang nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.