Boewe gryp bankbestuurder tydens oggenddraf

Die swart BMW nadat dit tot stilstand gekom het. (Foto: Verskaf)

’n 56-jarige bankbestuurder van Polokwane is met sy familie herenig nadat hy oor die naweek gegryp en ontvoer is terwyl hy gaan draf het.

Twee verdagtes is ure ná die ontvoering in hegtenis geneem nadat die polisie losprysgeld as lokaas gebruik het om die vermeende ontvoerders vas te trek. Daar word intussen na nóg verdagtes gesoek.

Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder, sê die bankbestuurder het Saterdag omstreeks 09:00 gaan draf toe hy naby sy huis in Welgelegen in die omgewing van Polokwane na bewering ontvoer is.

Die ontvoerders het daarna met die slagoffer se familie kontak gemaak en ’n aansienlike bedrag geld in ruil vir sy vrylating geëis.

Die polisie is genader om hulp en speurders van die provinsiale ondersoekeenheid het saam met lede van die polisie se georganiseerde misdaadeenheid, misdaadintelligensie-eenheid, taktiesereaksie-eenheid en gyselaarsonderhandelaars dadelik ’n ondersoek gelas.

Die losprysgeld is later die dag by ’n voorafbespreekte perseel afgelaai voordat die vermeende ontvoerders in twee BMW’s, een wit en een swart, aangery gekom het.

Die ontvoerde bankbestuurder is in die swart BMW gewaar. Die verdagtes het die geld opgelaai en dadelik gevlug.

Die polisie het die twee voertuie agternagesit en skote is afgevuur. Die bestuurder van die swart BMW het tydens die hoëspoedjaagtog beheer oor dié motor verloor, in die nabygeleë bosse ingeploeg en tot stilstand gekom.

Die polisie het twee verdagtes gewond en in hegtenis geneem.

Die ontvoerde bankbestuurder is ook tydens die skietery gewond en na ’n hospitaal vir mediese behandeling geneem.

Hy is in ’n bestendige toestand. Die losprysgeld is ook teruggevind.

Mojapelo sê die verdagtes in die wit BMW is egter steeds op vrye voet.

Hul aangekeerde makkers, onderskeidelik 25 en 28 jaar oud, sal na verwagting vandag in die landdroshof in Polokwane verskyn op aanklagte van ontvoering, afpersing en poging tot moord.

Die polisie doen nou ’n beroep op lede van die publiek om enige inligting rakende die voortvlugtende verdagtes by lt.kol. Richard Boshomane by 079 894 5501 óf Stop Misdaad by 0860010111 óf by die naaste polisiestasie aan te meld.

Die ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Waarnemer ·

Welgedaan aan dasrdie polisiemanne.Om die twee se makkers op te spoor is maklik…..trek n banksak oor hul koppe,konnekteer hulle knaters aan n outydse telefoon se krag stelsel,gooi hulle nat en draai dasrdie telefoon se slinger net so pasr keer.Hulle gaan soos kanaries sing.En VOILA!!!Gaan haal hulle makkers.

Paul ·

Lol.. dalk kom hulle uit met misdaad wat hulle nog wou doen ..

Shakespeare ·

Ons is ter dagens SIEK van die rampokkers in Suid Afrika. DOODSTRAF !!!!!! Enigste oplossing.

Carl ·

Dis nogal vreesaanjaend die feit dat die ontvoerde ook gewond is in die jaagtog. Wys net die polisie het niks gevoel vir hom nie(ek neem aan hy was nog in die kar toe hulle dit gejaag het en op hom geskiet het)……

Lillian ·

Gaan lekker in hierdie land … klink soos ‘n movie in Mexico …

Kobus ·

@Waarnemer, wil jy hê dat die MRK kommissielede in hulle koffie verstik ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.