Bolt-bestuurder gevonnis ná rits verkragtings

Bolt-app (Foto: Ben Stansall/AFP)

Emmanuel Mudau (30), ʼn e-taxibestuurder, is in die Johannesburgse hooggeregshof twee lewenslange vonnisse opgelê plus 60 jaar op vier aanklagte van verkragting, vier van ontvoering en twee van aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Mudau was ʼn geregistreerde bestuurder by Bolt en tussen Januarie en Februarie 2022 het hy vroue geteiken wat van Cosmo City na verskeie bestemmings wou reis. Hulle het hul rygeleenthede met die Bolt-app bespreek.

“Die vier klaers het getuig dat Mudau, sodra hulle in die motor geklim het, geweier het om hulle na hul bestemmings te neem. Hy het met hulle na afgeleë gebiede gery waar hy hulle aangesê het om hul klere uit te trek en het hulle verkrag,” sê Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag.

Twee van die klaers wou weghardloop, maar een is met ʼn skerp voorwerp aangeval en die ander is gewurg totdat hulle ingestem het tot sy eise.

Een van die klaers het, ter verswaring van vonnisoplegging, die grusame prentjie geskets van hoe trauma en vrees deel geword het van haar lewe. Sy glo sy sal daarmee saam moet leef vir die res van haar lewe.

“Staatsadvokaat Coleen Ryan het aangevoer die hof moet nie van sy voorgeskrewe vonnisse afwyk nie en gesê dié vroue sal vir die res van hul lewe in vrees lewe.”

Mjonondwane sê sy dink aan die klaers en hul families. “Hulle het onmeetbare pyn deurgemaak. Ons hoop dat hulle egter berusting sal vind dat hul oortreder uit die samelewing verwyder is.”

Die NVG loof die toewyding van adv. Ryan en die ondersoekbeampte sers. Mokwai vir hul pogings om ʼn suksesvolle vervolging te verseker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.