Boodskap oor nuwe Covid-19-variant is bog – departement

(Argieffoto: pixabay)

Daar is g’n nuwe dodelike Covid-19-variant nie, sê die nasionale departement van gesondheid nadat ’n misleidende boodskap oor ’n sogenaamde nuwe koronavirusvariant vandeesweek op sosiale media versprei is.

Die departement sê daar steek hoegenaamd geen waarheid in dié boodskap op sosiale media waarin Suid-Afrikaners aangeraai word om gesigmaskers te dra weens ’n nuwe Omicron-XBB-stam.

Luidens die boodskap is dié variant dodelik en kan dit nie maklik bespeur word nie.

Volgens Foster Mohale, woordvoerder van die departement, is dié boodskap egter “’n misleidende boodskap wat die eerste keer tydens die hoogtepunt van die pandemie sonder ’n naspeurbare bron opgeduik het”.

“Die feit bly dat Covid-19 steeds op relatief lae vlakke oor die hele land sirkuleer, net soos in ander dele van die wêreld,” sê Mohale.

“Dit is dus nie nodig dat mense paniekerig raak nie, want baie mense het ’n mate van immuniteit ontwikkel weens die entstof én vorige infeksies. Die huidige stam of variant in sirkulasie is minder ernstig en minder oordraagbaar.”

Mohale sê die departement doen daarom nou ’n beroep op lede van die publiek om waaksaam te wees en kwaadwillige inhoud op sosiale media te ignoreer wat ten doel het om onnodige paniek en verwarring te saai namate die land die griepseisoen binnegaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Samuel ·

Sommige mense hou van paniek saai net soos die verraderlike WGO.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.