Boom-noodgevalle: 108 voorvalle binne 48 uur

Helderberg (Foto verskaf deur Kaapstad-stadsraad)

Kaapstad se departement van parke en ontspanning het die afgelope naweek binne 48 uur minstens 108 oproepe ontvang van bome wat weens sterk wind omgeval het.

Dit is veel meer as die totaal vir die winterseisoen van 2023. In dié drie maande-tydperk is 76 voorvalle aangemeld.

Die oproepe is hoofsaaklik aangemeld in die stadskom en suidelike voorstede, asook Helderberggebied, insluitend Firgrove, Strand, Somerset-Wes en Gordonsbaai.

Die departement se spanne werk onverpoosd om te reageer op die voorvalle.

“Die getal boom-noodgevalle wat aangemeld is, is ʼn teken van die erns van dié frontale stelsel en ʼn herinnering waarom ons boom-noodgevallespanne so ʼn belangrike komponent is,” sê Patricia van der Ross, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdiens en gesondheid. “Hierdie mans en vroue is blootgestel aan die elemente en poog om die hindernisse op te ruim en die gebiede weer veilig te maak vir die publiek. Hulle het ʼn uiters besige naweek agter die rug, en sal bly werk totdat al die voorvalle opgeruim is.”

Van der Ross sê dit is ervare spanne, soos wat in vorige seisoene gesien is. “Terwyl hierdie weersomstandighede ʼn verwoestende impak het, het dit ook vir ons die geleentheid gegee om ons voorbereiding vir die komende winter op te skerp.”

Kaapstad se departement van parke en ontspanning is verantwoordelik daarvoor om bome op munisipale paaie en in openbare ruimtes te verwyder.

Die voorvalle word hanteer kragtens ʼn rits faktore, waaronder die risiko vir openbare veiligheid op groot paaie, moontlike lewensverlies en ernstige skade aan eiendom, die grootte van die boom wat die hindernis veroorsaak en toerusting wat benodig word om dit te verwyder, verkeersvolume op die betrokke pad, veiligheid vir die personeel wat die werk moet uitvoer (insluitend weersomstandighede en of daar enige lewendige elektrisiteitsdrade op die perseel is), ens.

Inwoners kan enige boom-noodgevalle aanmeld by 021 480 7700.

Grootskaalse reaksie op storm duur voort

Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad, was Maandag in die Helderberg-distrik saam met munisipale spanne wat onverpoosd werk aan die reaksie op die storm.

“Baie dankie aan die personeel wat in baie moeilike en gevaarlike toestande werk,” het Hill-Lewis bygevoeg.

Chapmanspiek- en Clarencerylaan bly Maandag gesluit weens weersomstandighede en die moontlikheid vir rotsstortings.

Die puin is opgeruim in Baden Powellrylaan en Kloofweg. Houtbaai se Mainweg was Maandagmiddag steeds gesluit weens werk wat voortduur ná ʼn pyp gebars het.

Die munisipaliteit het teen vroeg Maandagmiddag ook die kragtoevoer herstel na die ongeveer 30 gebiede wat deur die storm geraak is. Werk duur voort om die kragtoevoer so vinnig as moontlik, sodra dit veilig is, te herstel na die gebiede wat steeds hierdeur geraak word.

Beverley van Reenen, burgemeesterskomiteelid vir energie, het inwoners bedank vir hul geduld terwyl die munisipaliteit op al die probleme reageer.

“Inwoners word daaraan herinner om slegs een kanaal te gebruik wanneer foute aangemeld word, sodat ons duplikaat-diensversoeke so ver as moontlik kan vermy,” voeg Van Reenen by.

Vir diensversoeke (gebruik slegs een kanaal om jou fout aan te meld):

Oproepsentrum: 0860 103 089
SMS: 31220 (geen gratis SMS’e nie)
E-pos: [email protected]
e-Services: www.capetown.gov.za/servicerequests

Skole in die Kaapse Wynlande en Overberg-distrikte bly Dinsdag nog gesluit. Dit is slegs van toepassing op die 281 skole in die Kaapse Wynlande-distrik en 84 skole in die Overberg-distrik. Klik hier om meer te lees.

Helderberg FM se toring waai om

Helderberg FM, ʼn gemeenskapsradiostasie, se toring het tydens die storm omgewaai en die radiostasie beleef ʼn onderbreking in hul uitsending op FM-frekwensie.

Spanne wag vir veiliger toestande om die toring te herstel.

Skakel gerus via Livestream in op www.helderbergfm.co.za om die uitsending te bly volg.

UPDATE !!!! Scenes from our Grabouw broadcast site. We are aware of a break in transmissions on our FM frequency, due to…

Posted by HelderbergFM 93.6 on Monday, April 8, 2024

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.