Stormweer: Só staan sake in Wes-Kaap

storm, winde, Suid-Afrikaanse Weerdiens, reën, see, water

Foto ter illustrasie (Foto: Pixabay)

Talle skole in die Wes-Kaap bly gesluit en opruimingswerk in die provinsie gaan voort ná die stormweer van die afgelope naweek.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het oor die naweek sy waarskuwing van ʼn oranje vlak 6-waarskuwing tot ʼn oranje vlak 9 verhoog. Die Kaapse Wynlande-, Overberg- en Weskus-distrik is die swaarste getref deur sterk wind en swaar reënval.

Volgens Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, is die provinsiale regering se eerste prioriteit om te verseker dat alles moontlik gedoen word om inwoners se veiligheid te verseker.

“Ons doen ʼn beroep op almal om asseblief uiters versigtig te wees en onnodige reise te vermy,” sê Winde.

“Die toewyding van al ons rampbestuurpersoneel, op die voorste linies en agter die skerms, is merkwaardig. Hulle het hard gewerk om inwoners te help. Ons is baie dankbaar vir alles wat julle in geraakte gebiede gedoen het”.

Dele van die Tuinroete-distrik kan na verwagting vandag en môre (Dinsdag) swaar reën verwag.

Skole

As ʼn voorsorgmaatreël is skole in die Kaapse Wynland- en Overberg-onderwysdistrik tot Dinsdag gesluit.

Dié maatreël sal slegs van toepassing wees op die 281 skole in die Kaapse Wynland-onderwysdistrik en die 84 skole in die Overberg-onderwysdistrik.

Skole in die Helderberg-omgewing van die Metro-Oos-onderwysdistrik sal wel Dinsdag heropen.

“Ons wil hê ons kinders moet leer en skool bywoon, maar gegewe die erns van die waarskuwings het ons gevoel dit is beter om eerder veilig te wees as jammer,” sê Winde.

Tot dusver het 132 skole weerverwante skade aangemeld.

Paaie

Opruimingswerk op talle paaie gaan ook voort en verskeie paaie bly onbegaanbaar of is steeds gesluit. Provinsiale verkeersbeamptes is op hoë ʼn gereedheidsgrondslag en is in sleutelgebiede ontplooi om te help met verkeerbeheer en padsluitings.

Kragonderbrekings

Verskeie dorpe in die Weskus-distrik, asook die gebiede Gordonsbaai en Lourensford, het kragonderbrekings ervaar. Herstelwerk het reeds begin.

“Ek is bekommerd oor die impak wat die wind op elektrisiteitsinfrastruktuur gehad het. Ons het in Februarie die ineenstorting van kragmaste in die Sentraal-Karoo gesien wat volgens Eskom as gevolg van sterk wind was. Ek bly bekommerd oor die moontlike uitwerking wat die wind nog kan hê,” het Winde gesê.

Gesondheid, welstand

Gesondheidsorgdienste in geraakte gebiede word steeds gelewer. Die stormweer kan sekere gesondheidsorgdienste soos HealthNet-pasiëntvervoer en mobiele gesondheidsorgdienste raak, sê die premier.

Sterk wind het die naweek verskeie veldbrande en brande in informele nedersettings in verskeie gebiede aangedryf.

Die Wes-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkelingsdienste is geaktiveer om bystand te bied, veral aan kwesbare inwoners. Winde het sy dankbaarheid teenoor welwillendheidsorganisasies betuig vir hul ingryping die afgelope paar dae.

“Julle deurlopende bystand is van kardinale belang. Ek wil ook ʼn beroep op alle inwoners doen om uit te reik en te help, op watter manier jy ook al kan. Hierdie situasies kan die beste in ons gemeenskappe na vore bring. Dankie aan almal wat iemand in nood gehelp het,” sê Winde.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lettie ·

Vanaf Gauteng – baie dankie aan hulp verleen aan ons geliefdes daar in die Kaap Provinsie. Dink aan julle gedurende hierdie tyd. Dankie mnr Winde vir gereelde opvolg dmv Maroela Media. Dankie Maroela Media ook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.