Madonna sluit wêreldtoer voor skare van 1,6 miljoen af

(Foto: Pablo Porciuncula/AFP)

Die Amerikaanse popster Madonna het die naweek in eg “Causing a commotion”-styl Brasilië se beroemde Copacabana-strand tot stilstand gebring met ʼn gratis konsert wat nagenoeg 1,6 miljoen aanhangers gelok het.

Dié geskiedkundige vertoning was die laaste van haar Celebration Tour-wêreldtoer, wat sedert verlede Oktober altesaam 80 konserte gelewer het.

Madonna het haar veelsydigheid ten toon gestel met tientalle stel- en kostuumveranderings, skouspelagtige ligte en reuseskerms vir die groot skare langs die strand.

Daar word verwag dat dié konsert ʼn groot ekonomiese inspuiting van nagenoeg $57 miljoen (meer as R1 miljard) vir Rio de Janeiro sal gee.

Dit was die eerste keer wat die 65-jarige pop-ikoon ʼn konserttoer met haar grootste treffers, wat oor vier dekades strek, onderneem het. Haar eerste album, Madonna, is in 1983 uitgereik, en sedertdien het sy aanhangers byna elke twee jaar met nuwe liedjies of albums bederf.

Die Celebration-tour sou reeds in Januarie in Mexiko afsluit, maar is weens die sangeres se gesondheidsuitdagings genoop om datums te skuif.

Skare op die Copacabana-strand. (Foto: Daniel Ramalho/AFP)

Maroela Media het vroeër berig Madonna is in Junie verlede jaar met ʼn bakteriële infeksie in die intensiewesorgeenheid van die hospitaal opgeneem. Van haar uitverkoopte konserte in New York in die VSA is gevolglik uitgestel.

Twee aanhangers het haar by dié einste uitgestelde konserte in Januarie vanjaar boonop gedagvaar vir “onverskillige moedswilligheid” en het skadevergoeding geëis omdat die konsert twee uur laat begin het.

Michael Fellows en Jonathan Hadden het die sanger, die toermaatskappy LiveNation, asook die venue, die Barclays Centre, vir ʼn ongespesifiseerde bedrag oor die laat begin van haar Celebration Tour-konserte in Desember gedagvaar.

Dit is nog nie bekend hoe dié saak tans vorder nie.

Bronne: BBC, People, Sky News.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.