Madonna in waakeenheid, wêreldtoer uitgestel

Madonna op die VMA-toekennings in 2021. (Foto: Bennett Raglin/Getty Images/AFP)

Madonna het haar wêreldtoer uitgestel nadat sy in die waakeenheid van ʼn hospitaal in New York, VSA, opgeneem is weens ʼn ernstige bakteriële infeksie.

Volgens Guy Oseary, die 64-jarige popster se bestuurder, sal sy egter na verwagting volkome herstel. Oseary het aan die BBC gesê sy was ʼn paar dae lank in die hospitaal opgeneem en is steeds onder mediese versorging.

Madonna se Celebration-wêreldtoer, met 84 konsertdatums, sou volgende maand afskop. Sy was van plan om die 40ste herdenking van haar debuuttreffer, “Holiday”, te vier deur vir die eerste keer ʼn toer met haar grootste treffers te onderneem.

Dit sou ook die eerste keer sedert 2020 wees wat die pop-ikoon terug op die verhoog is. Sy moes destyds ook ʼn paar van haar Madame X-vertonings kanselleer weens knie- en heupbeserings.

Die nuutste wêreldtoer sou op 15 Julie in Vancouver, Kanada, afskop en op 30 Januarie 2024 in Meksikostad eindig. Die Europese been van die toer sou op 14 Oktober afskop en sou later in Londen by die O2 Arena eindig.

Die sangeres is bekend daarvoor dat sy uiters privaat oor haar gesondheid is. Volgens berigte was sy besig met die finale voorbereiding vir die toer toe sy op 24 Junie begin siek word het.

“Al haar verpligtinge is vir eers opsygeskuif sodat sy kan herstel,” het Oseary gesê.

Madonna. (Foto: Facebook)

Madonna het in 2009 die Guiness-wêreldrekord opgestel vir ʼn musiektoer deur ʼn vrouekunstenaar wat die meeste geld ingebring het nadat sy die Sticky & Sweet-toer voltooi het.

Sy is deur Forbes aangewys as die 45ste rykste, selfgemaakte vrou in die VSA, met ʼn geraamde rykdom van $580 miljoen (sowat R10 miljard).

Sy het ses kinders, waarvan vier aangeneem is. Madonna is gebore Madonna Louise Ciccone en het in Detroit, Michigan, grootgeword. Sy het in 1978 na New York verhuis om ʼn loopbaan in die vermaakbedryf na te jaag.

Haar ouer broer, Anthony Ciccone, is vroeër vanjaar in die ouderdom van 66 oorlede ná ʼn stryd met alkoholisme en dakloosheid.

Bykomende bron: BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Vonkprop ·

Moet sy nie maar op pensioen gaan nie? Met daardie klas geld sal sy seker ‘n lekker plekkie kan bekostig by Huis Spataar. Haar kinders kan Sondae vir haar kom kuier en sommer die plantjies ook natmaak.

Pierre ·

Miskien wou het eenvoudig nie geholpe raak nie jy ken ook nie die omstandighede nie

Johan Tredoux ·

Dis OK. Sy’t haar eie ooghare. Nie joune nodig nie, maar dankie in elk geval.

Yolandie ·

Ek het ook op n tyd haar musiek geniet, maar ek dink nou self die tannie kan maar nou gaan rus. As mens so na haar kyk laat sy mens dink dat sy bang is vir oud word, maar ouderdom jok nie Madonna.

Vonny ·

Madonna jy lyk pragtig.
Baie vroue sal love om jou looks
Te hè!

En as kind van God bid ek vir jou.

Johan Tredoux ·

Ek gaan iemand herhaal. Vir die helfde van haar geld sal ek vir haar sê ek’s lief vir haar. Vir die ander helfde sal ek dit bedoel.

Daizee ·

Oe genade! Daar moet ‘n wet ingestel word wat visnet kouse na ‘n sekere ouderdom buite jou huis verbied om enige niksvermoedende ou drommels te beskerm!!! :-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.